Drie toets positief vir Covid-19 by SAVF Tehuis vir Bejaardes
Die SAVF Tehuis vir Bejaardes het bevestig dat een van hul sieklike inwoners in haar 90's, en twee personeellede, positief getoets het vir Covid-19.
Beide die personeellede is in isolasie, terwyl die bejaarde vrou in die hospitaal opgeneem is.
Tehuisbestuurder, mnr. Nico Swart, sê dat die hele siekeboeg tans in kwarantyn is en dat besoekers steeds nie by die tehuis toegelaat word nie.
Volgens mnr. Swart is die personeellid wat eerste simptome getoon het nie in die tehuis toegelaat nie en dadelik gestuur vir toetse.
Die ander personeellid was ook nie by die werk toe haar simptome begin het nie.
Hy loof beide vir hul eerlikheid en sê dat streng protokols met vraelyste en die toets van temperature sedert Maart met die aankondiging van die grendelstaat, streng gehandhaaf is.
“Dit is juis om infeksies vroeg te identifiseer en inwoners van besmetting te beskerm, ons glo dat die protokol ons inwoners tot dusver beskerm het en dat die huidige infeksies geïsoleerde gevalle is,” sê mnr. Swart.
Hy sê dat inperkingsregulasies vir beide inwoners en hul families baie moeilik is.
“Maar dit is van kardinale belang om die bejaardes te beskerm, omdat hulle minder weerstand het teen die virus en sy gevolge,” sê mnr. Swart.
Die bejaarde met Covid-19 is bedlêend en was ook al verskeie maal sedert die inperking in die hospitaal.
Die tehuis het die nodige departemente dadelik van die toetsuitslae in kennis gestel.
“Ons wil die gemeenskap gerus stel dat ons alles in ons vermoeë doen om die bejaardes veilig en gesond te hou,” sê mnr. Swart.
Hy bedank die gemeenskap en families van bejaardes vir hul samewerking en vra dat die tehuis in almal se gebede gehou moet word.
• St Josephs ouetehuis het ook bevestig dat ’n verpleegsuster daar positief getoets het, maar nie in kontak met inwoners was nie.
