Dokter vry van strafbare manslag klag
Middelburg ginekoloog, dr Deon van der Merwe, wat in die wyd gepubliseerde verhoor van dr Danie van der Walt getuig het, het vanoggend gesê die ter syde stelling van sy skuldigbevinding en vonnis in die konstitusionele hof gister, gee hom en ander ginekoloë nie soseer gemoedsrus nie, maar eerder nuwe wetgewing wat vanjaar in die staatskoerant gepubliseer is oor mediasie.
Dr Van der Merwe het nie net ter ondersteuning van dr Van der Walt getuig nie, maar ook briewe van 14 ander plaaslike dokters by die hof ingehandig wat dr Van der Walt se lof as mediese spesialis besing het.
Die saak teen dr Van der Walt, wat in eMalahleni gepraktiseer het, is deur die konstitusionele hof terugverwys na die direkteur van openbare vervolging in Mpumalanga.
Die saak het vanaf 2006 gesloer, na die dood van dr Van der Walt se jong pasiënt, Pamela Daweti (23), wat tydens kraam begin bloei en later oorlede is.
Dr Van der Walt het teen sy skuldigbevinding en gevangenisstraf van vyf jaar appèl aangeteken, maar die appèl is verlede jaar in die hooggeregshof van die hand gewys en dr Van der Walt het sy vonnis begin uitdien.

Hy is ’n paar maande gelede op parool vrygelaat.
Dr Van der Merwe sê nuwe wetgewing verplig pasiënte, wat klagtes het, om eers met ’n mediasieproses te begin.
Indien die hof later bevind dat die regsverteenwoordiger en klaer nie erns met die proses gemaak het nie, kan daar ’n kostebevel teen hulle gemaak word.
“Mediesesake duur jare en daar is astronomiese kostes aan verbonde, nou kan dit binne weke met mediasie afgehandel word.”
Dr Van der Merwe sê almal maak foute maar wanneer daar klagtes is teen ’n geneesheer kan dit vinniger tot bevrediging van alle partye opgelos word.
Hy het gesê alhoewel die saak teen dr Van der Walt terugverwys is, sal dit geen sin maak om hom weer te vervolg nie.
Dr Van der Walt het nie vanoggend sy selfoon beantwoord nie.
