Familie en vriende berou Julius se afsterwe
Familie en vriende is geskok na die skielike afsterwe van die sakeman en rugbyspeler, Julius Zeelie.
Julius is vanmore om 03:00 oorlede in die intensiewe eenheid van Life Midmed Hospitaal, waar hy opgeneem is vir longontsteking.
Julius se vrou, Lorraine, het bevestig dat hy positief getoets het vir Covid-19, maar dat hy oorlede is as gevolg van ‘n hartaanval.
Julius het vir jare lank op Middelburg gewoon en was ‘n bekende sakeman waar hy sy eie besigheid bedryf het, bekend as Jez Civils. Hy het as lid van die Middelburg Rugbyklub gespeel van 1988 tot 1997, en het diep in die harte van inwoners ingekruip.
Sy jarelange vriend, Francois Rossouw, se dat hulle bosomvriende was vanaf die vroeë 90’s.
Francois het Julius as ‘n fantastiese gesinsman beskryf.
“Hy was ook maar ‘n stoutgat, soos alle rugbyspelers is, maar ‘n goeie man en pa. Hy wou altyd die beste vir almal hê en was altyd daar met ‘n grappie of bemoediging,” het Francois gesê.
Francois het vertel dat Julius ‘n manier gehad het om mense te betrek, en dat niemand ooit alleen gevoel het in sy teenwoordigeid nie, “dit is die rede hoekom almal hom geken het en so bitter lief was vir hom.”
Julius se familie het die volgende oor hom gesê:
Julius Edwin Zeelie – ‘n sielsgenoot soos min, die man van my lewe, ‘n legende van ‘n Pa ‘n superhero van ’n Oupa.
Ons sluk moeilik, ons oë loop oor en ons hartjies is leeg met ‘n baie groot slag!
Maar my man, pappa en oupa sal altyd onthou word, daardie besondere harde stem wat altyd ons kon lig met met ‘n paar diep woorde as ons wou opgee!
My man en pappa jou woorde en grappies en antwoorde op alles sal nooit vergeet word nie. Jy het ons gelig as ons wou gaan lê jy het uit jou pad gegaan om iemand te help al was dit ‘n vriend of ‘n kennis.
My man en pappa ons kan nie eers probeer verduidelik watter leemte jy agter gelos het nie met jou skielike heengaan nie, nie net in ons harte nie maar hier op aarde. Jy was ‘n regte staatmaker en steunpilaar.
Vir almal was jy ‘n rots ‘n superhero.
Rus in vrede. Jy is saam Zanetjie ons pa, ons weet daardie groot hande van pappa rus in Jesus sin. Jou eggenoot Lorraine, Julius (seun) Zanell (dogter) Ryno Augustyn (skoonseun) Ruben, JJ en Zander (Kleinseuns).
