Draai Saterdag by die Loskopdampad in, toe daar ’n pienk trok verby ry, waarop staan: “ons vat nie k@k nie”.
Word net daar gekonfronteer met die diep filosofiese vraag: “Is k@k ’n vloekwoord?”
In ’n huis waar “blêrrie” ’n vloekwoord was, is die antwoord: “Ja!”
Ma sou gou vir jou gesê het “ek was jou mond met seepsoda uit” as jy dit sou durf waag om enige woord te gebruik, wat klink na vloek al was dit “bliksem“ of “donder” soos in bliksemstraal en donderweer. Jy mag nie eers gesê het “hier kom die donder weer nie”.
Natuurlik was dit nie die geval in die army nie.
Daar het almal gevloek.
Jy kon nie met ’n Nataniël teemstem gesê het “hier kom die vyand ekkk dinnkkk…, ons moet nou bietjie gaan lêêê… nie”.
Dit was: “F#$@kkk… dekkinngggg!!!”
Joernaliste weet van poef.
Soos hulle sê, die diepte verskil net.
So stap ’n man lank gelede by die redaksiekantoor in met ’n vol emmer…poef!
Dit was in die dae van die emmerstelsel.
Vroegoggend moes die munisipaliteit se nagwa die emmer verwyder.
Na ’n week en ’n vol emmer, het hy met daai emmer by die kantoor ingestap en hom net daar neergesit.
Nee, dis geen twakstorie nie.
Die vroue joernaliste het gevlug en daar sit ek met die k@k opgeskeep.
Die man se emmer het oorgeloop van woede en as deel van sy protes, het hy besluit om die inhoud net daar te los.
Nodeloos om te sê is ek met ’n stinkspoed agterna, met die inhoud wat gevaarlik heen en weer skud.

Nou goed, is k@k vloek?
Mag ons in hierdie week se uitgawe van die Middelburg Observer die woord gebruik?
Volgens die 6de uitgawe van die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) is kak ook ’n selfstandige naamwoord!
Google sê: “Moenie hierdie woord, geringskat of verkak nie, want jou kind kan dit nou met gemak op skool gebruik. As die onderwyser vra hoekom sy huiswerk so slordig is, kan hy volgens die HAT sê – “Jammer, ek het hier kak aangejaag juffrou.”
Sy onderwyser kan op haar beurt hom en die klas formeel waarsku in amptelike toon – “Dis orraait vir nou, maar in die toekoms sal ek nie kak van kabouters vat nie.”
Volgens die HAT het die woord ook ’n meer idiomatiese inslag in staatkundige verband indien soos volg aangewend:
“Kak en betaal is die wet van die ou Transvaal!”; of
“Die kak gaan spat as jy nie jou rekening betaal nie!”
Hierdie idiomatiese inslag verstaan ons baie goed.
Natuurlik het Gerhard Rheeder, soos ’n goeie joernalis, sy neus gevolg en gaan uitvind oor die pienk trok en sy slagspreuk van “ons vat nie k@k nie”.
Sy berig oor Stinky Pinky verskyn in hierdie week se Middelburg Observer.
Indien jy in Kakamas sit en nie kans sien om na Middelburg te ry, om jou koerant te koop nie, kan jy hom sommer aanlyn lees.
En dis geen kakstorie nie!

