News

Semi-outomatiese geweer tydens onwettige jag op plaas naby Carolina gekonfiskeer

Twee mans, waarvan een gelys word as die direkteur van ’n sekuriteitsmaatskappy, is aangekla van onwettige jag, nadat hulle na bewering op die plaas Jagtlust buite Carolina met ’n semi-outomatiese geweer betrap is.

Die boer, wat versoek het dat sy naam weerhou word, sê dat hy Vrydagnag vyf skote, wat soos klappers klink wat afgaan, gehoor het. Die plaas is op die Hendrina/Carolina pad geleë.

Hy het volgens die plaasveiligheidsprotokol nie self gaan ondersoek instel nie en het ’n polisiereservis en sy pa gekontak.

Die reservis en boer het hul na die toneel gehaas en het twee voertuie, ’n BMW X5 en ’n Ford bakkie, langs die pad op die plaasgrens gesien staan. Daar was ook ’n man by die voertuie.

Die man het aan hulle vertel dat iemand sy voertuig met ’n klip gegooi het en dat sy broer te voet agter die kwaaddoeners aan is. Toe hy gevra is om te wys waar die klip die voertuig getref het, het hy om die motor gestap en gelyk of hy soek na ’n merk. Hy het toe gesê dat hy net die slag gehoor het en nie gesien het waar die klip die voertuig tref nie.

Terwyl die reservis met die man gepraat het, het die boer met ’n soeklig oor die gestroopde land gekyk. Hy het twee donker kolle gesien lê, maar nie veel daarvan gedink nie. Nadat die lig van die kolle afbeweeg het, het twee mans skielik uit die land gestap gekom.

Die boer het na die plek gestap waar hy voorheen die donker kolle gesien het en afgekom op ’n .223 pompaksie geweer, toegerus met nagsigteleskoop en knaldemper, asook ’n jagmes.

Lees ook: Alleged poaching duo to face court

In die proses het die ander man, wat oorspronklik by die voertuie gestaan het, in die bakkie geklim en weggery.

Die reservis sê een van die mans wat uit die land gestap gekom het, het aan hom erken dat hy “‘n fout gemaak het” en na ’n bok geskiet het, maar dat die bok weggekom het.

Die BMW se registrasienommer het na bewering aan die eienaar van ’n sekuriteitsmaatskappy, wat vir regeringsinstansies in Carolina werk, behoort. Die vuurwapen is ook in dieselfde sekuriteitsmaatskappy se naam geregistreer. Een van die mans het ’n baadjie met die sekuriteitsmaatskappy se handelsmerk opgehad toe hy gearresteer is.

Boere wonder nou wat ’n geweer, wat duidelik vir jag toegerus is, in besit van ’n sekuriteitsmaatskappy doen.

Sersant Thabang Mokwana, Carolina se polisiewoordvoerder, sê dat hulle twee mans, Kalabi John Mamabolo (35) en Andries Diale (41), op die plaas gearresteer het, nadat hulle ’n klag van onwettige jag ontvang het. Sers. Mokwana sê dat ’n .223 geweer gekonfiskeer is.

Volgens hom het die mans op Saterdag 25 Julie, tydens ’n spesiale sitting in Carolina, vir die eerste keer in die hof verskyn en is hulle borg van R1 000 elk toegestaan. Hulle moet weer op 3 Augustus in die hof wees.

• Mambolo word volgens die nasionale tesourier se webblad as die direkteur van 303 Security and Cleaning Services gelys. Hy het ’n kontrak om sekuriteitswerk vir die regering in die Ekhuruleni munisipale gebied te doen.

• Boere in die omgewing sê dat hulle kwaai deurloop onder diefstal van veral beeste. Daar is ook gerugte van inwoners in Carolina wat snags gaan jag, die vleis bewerk en dit dan verkoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button