News

Kommandant se wroeging oor soldaat se skietdood

Hy het met krom skouers by die kantoor ingestap, afgemete gepraat. Die woorde het stadig gekom, soos ’n moeilike geboorte.

Kommandant Kobus Prinsloo het vertel oor sy Murray Boshoff-wroeging.
Murray wat deur “terroriste” doodgeskiet is.

Murray wie se ma Marie, sy buurvrou, gesmeek het dat hy nie ’n driemaande militêre kamp op Messina moes bywoon nie, omdat hy eers sy vakleerlingskaptoets moes skryf.

Kommandant Prinsloo het geweier.

Murray is Messina toe.

Vir jare het die bevelvoerder van Witbank Kommando met die groot las op sy skouers rondgeloop, gewroeg, homself verwyt.
Kort nadat hy sy verhaal kom vertel het, is hy aan ’n hartaanval dood.

Hoeveel Suid-Afrikaners loop vandag met seer in hulle harte rond? Seer wat hulle verteer?

Mense teen wie gediskrimineer is oor hulle velkleur, mense wat deur ’n regeringstelsel gedwing is om in ’n vreemde land as agttien, negentienjariges, te gaan oorlog maak? Wat nie kon sport beoefen soos hulle wil en waar hulle wil nie, weens die kleur van hulle vel?

Mense wat in hostels ingedruk is volgens hulle etniese agtergrond. Duisende onvertelde stories wat in hartkamers toegesluit is.

“Die bosoorlog is al vir meer as 30 jaar iets van die verlede, maar vir baie veterane hou die oorlog in hulle koppe nooit op nie” skryf Deon Lamprecht die naweek in Rapport.

Een paragraaf in die boek na die slag van Calueque skok veral: “Dit was ’n verskriklike toneel, hompe vleis het oral gelê.” Daardie “hompe vleis” was jong troepe.
Nou is dit die jaar 2020, hoeveel jare na demokrasie?

Daar word deesdae soveel stories gedeel van ’n seerverlede, dat mens voel ons het nog ’n Waarheid- en Versoenings Kommissie nodig.
Stories van die Murray Boshoffs sal seker nooit gehoor word nie.

Jong troepe wat as kanonvoer gebruik is op “die grens” en verwytende verwysings na “Pik” en “PW” word gereeld gehoor.
Maar wat van die Murray Boshoffs?

Hy wat net graag sy vakleerlingskap wou voltooi, maar deur wetgewing gedwing is om drie maande in die Messina (Musina) bosse te gaan rondkruip?

Diensplig was nie die einde nie. Wanneer die jong troep net weer sy voete in ’n huwelik en werk vind, is hy opgeroep na wie weet waar in die land, van Port Elizabeth, tot Amsterdam en Messina.

Hoeveel huwelike is deur die destydse driemaande kampe vernietig?
Drie maande van gesinne af weggeruk.

Pa’s wat ontneem is om by te wees met hulle kinders se geboorte.

Jong vroue wat alleen die pot aan die kook moes hou.

Bevorderingsgeleenthede en loopbane daarmee heen.

Eers na agt jaar was jy klaar met dié driemaande kampe.

As Boetie die bliksem in was, is daar duisende wat vandag die reg het om bitter te wees, nie die bliksem in nie, bitter.

Wanneer jy geweier het om net een dag opleiding te mis, is jy aangekla en voor ’n militêre hof gedaag.

Daar is met vrees regeer. Soveel vrees dat ’n jong dienspligtige van Witbank en 4SAI in Durban uit die tiende verdieping van ’n gebou gespring het, om die militêre polisie te ontduik. Hy en sy vriendin het hulle albei doodgeval.

Somtyds is jong kommandolende is die nag wakker geklop, om strategiese punte en veral waar die land se olie gestoor is, te gaan oppas. Daar was nie ’n “nee, ek werk more nie”, jy moes gaan of jy word aangekla.

Siekte en dood was nie ’n verskoning nie.
Bevelvoerders was diktators.

’n Inwoner se dogtertjie was sterwend weens kanker.

Toe hy tydens ’n driemaande kamp in Port Elizabeth vir ’n luitenant verlof vra, om sy vrou en siek kind by te staan, is hy weggejaag. Hy moes die kamp klaarmaak, maar het sy goed gevat en geloop.

Kommandant Prinsloo het vir jare gewroeg. Hy het my kantoor verlaat met ’n swaar sug, nadat hy in detail vertel het hoe Murray doodgeskiet is. Hy het Marie Boshoff se versoek geweier en dit het indirek tot haar seun se dood gelei. Uiteindelik kon hy dit met iemand deel.

Daar is nog soveel verhale.

Daar is nie ’n “ons” en ’n “hulle” nie.
Daar is net ’n “ons”.

Ons in hierdie land, Suid-Afrika.

Gaan ons aanhou om aan die gifbeker te drink?.. tot in lengte van dae…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button