News

Murray, die goue horlosie en die tieroog ring

’n Goue horlosie, verbronsde skoene...én toe huil ons.

Murray Boshoff verjaar volgende week. Hy sou op 13 Augustus 59 jaar oud gewees het.

Maar Murray gaan nie hier wees om sy verjaardag te vier nie, Murray is deur “terroriste” doodgeskiet.
Murray se naam is by die Voortrekker Monument verewig.

Hy leef voort in foto’s, verbronsde skoene en sy geliefdes se harte.

 

Murray Boshoff se verbronsde skoene.

 

Is dit toevallig dat Murray se verhaal nou weer vertel word?
Hier voor sy verjaardag?

Kobus Boshoff, Murray se boetie, bel Woensdagaand. Hy praat oor die verlange, “daardie” goue horlosie en die verbronsde skoene. Hy vra ’n afdruk van Murray se foto, waar hy trots in sy weermaguniform staan.

Die verhaal van die goue horlosie.

Sit in 1983 saam met Murray en ander troepe in die warm aandlug onder ’n tent wat as menasie dien op Messina. Ons mag elkeen twee biere drink en is besig met ons laaste rantsoen.

Uit die bloute haal hy sy goue horlosie af en vra: “Sal jy die horlosie asseblief vir my ma gaan gee, wanneer jy terug is in Witbank?” Sou na ’n week terugkeer huistoe, om later saam met die Mothklub vir ’n week lank langs die Rhodesië (Zimbabwe) grens af te toer en daaroor verslag te doen, vir ons koerante.

Maar toe haal Murray ook ’n tieroog ring af en gee dit vir my om vir sy ma, Marie, te gee.
Marie was te bly om die horlosie en ring al die pad van Messina af te kry.

Die goue horlosie wat Murray Boshoff vir sy ma teruggestuur het. Het hy ’n voorgevoel gehad iets gaan gebeur?

Min het ons geweet net weke later sou Murray in ’n skermutseling sterf.

Kan die horlosie goed onthou, maar later vergeet daar was ook ’n tieroog ring.
Kobus sê Woensdagaand: “Ek het daardie horlosie”

En toe hy ’n foto van die goue horlosie vir my aanstuur, dartel hoendervleis van my kroontjie af.

Na die geveg met vier “vryheidsvegters” in die bosse, is Murray se militêre stewels nooit gekry nie, net soos sy ouboet Christo se stewels nooit gekry is nie, nadat hy in ’n motorongeluk oorlede is.

Marie het besluit om van haar seuns se stewels in brons te verewig.

Christo Boshoff se verbronsde skoene.

Vanoggend bel Marie (82). Sy het gehoor kommandant Kobus Prinsloo, wat geweier het dat Murray eers sy vakleerlingskap voltooi, voor hy grensdiens van drie maande verrig, is oorlede.

Daar is teleurstelling in haar stem: “Uit my moederhart wou ek hom so graag teen my vasgedruk en vir hom gesê het ek verwyt hom nie, hy was ook maar gedwing om sy werk te doen.”

Maar Marie sal nooit die geleentheid kry nie, want kommandant Prinsloo is aan ’n hartaanval oorlede.

Hoor toe vir die eerste keer daardie tieroog ring het aan Christo behoort en nadat hy oorlede is, het dit Murray se eiendom geword.
Is hierdie alles net “toevallig”.

Christo Boshoff.

Was dit “toevallig” dat Christo net voor hy oorlede is en ’n dag voor sy 21ste verjaardag, op sy nommer twintig sleutel, wat alleen in sy gereedskapkis gekry is by Optimum Myn, die woorde 20 HCB (Hendrik Christoffel Boshoff) grafeer het?

Volgende week verjaar Murray, daar sal nie ’n verjaardagkoek en kersies wees nie, net ’n goue horlosie, ’n tieroog ring, verbronsde skoene en herinneringe.

Dan onthou jy toevallig Elizabeth Edwards se woorde: “If you know someone who lost a child and you’re afraid to mention their child because you think you might make them sad by reminding that they died – you’re not reminding them. They didn’t forget they died. What you’re reminding them of, is that they lived, and that’s a great gift.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button