Vroue huil en skree toe hulle gekry word
Die twee vroue van Hendrina, waarna daar Vrydagaand gesoek is, nadat hulle gaan brood koop en nooit teruggekeer het huistoe nie, is Saterdagoggend in Groenkol erg getraumatiseerd gekry.
Hulle het heeltyd geskree en gehuil.
Volgens Piet Steyn, ’n lid van Middelburg se Gemeenskapspolisiëringsforum, het iemand van Hendrina hom gebel en ingelig dat hulle al deurnag soek na Adele-Shante Nienaber (18) en Mariska Nicolene Brand (28).
Hy het ’n beskrywing van die voertuig, asook inligting dat die meisies hulle moontlik in Middelburg bevind, op die GPF se Zellokanaal ingeroep.
’n Groep GPF lede het die Hoër Tegniese Skoolgronde, waar die vroue moontlik was, deursoek maar kon hulle nie daar opspoor nie. ’n Ander GPF lid het kort daarna die kar by die verkeersirkel by John Magagula- en Kogelstraat gesien ry en dit agtervolg. Die kar het in Viljoenstraat tot stilstand gekom.

Lede op die toneel sê dat die vroue heeltemal verboureerd was en dat een se klere geskeur was. ’n Inwoner in die straat het vir hulle komberse gebring.
“Hulle was baie senuagtig omdat ons ’n klomp mans om die kar was. Ons het besluit om terug te val en vir hulle spasie te gee,” het mnr. Steyn vertel.
Hy sê dat die vroue duidelik getraumatiseerd was en heeltyd geskree en gehuil het.
“My hart het gebloei vir hulle,” sê mnr. Steyn.
’n Vroulike polisielid het met die vroue gepraat en hulle vergesel na die Middelburg polisiestasie.

Kaptein Khanyisile Zwane, Middelburg polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar klagtes van ontvoering, aanranding met die opset om ernstig te beseer en die rig van ’n vuurwapen ondersoek word en dat twee verdagtes geïdentifiseer is.
Volgens inligting het ’n man met ’n vuurwapen die vroue in Hendrina gestop, in hul motor geklim en hulle gedwing om briewe aan hul familie te skryf en brandstof in te gooi, voordat hulle na ’n sinkhuis in Vosman geneem is.
Die Saterdagoggend het ’n ander man, wat aan die vroue bekend is, die sinkhuis se deur oopgemaak en die vroue aangerand. Toe me. Nienaber op die grond geval het, het me. Brand haarself oor die jonger meisie gegooi en sy is geskop en geslaan.
Die vroue het ’n gaspistool by hulle gehad en kon hul aanvallers daarmee dreig en ontsnap. Hulle is uiteindelik gevind waar hulle doelloos in Middelburg rondry.
Kapt. Zwane sê dat die saak na Hendrina oorgeplaas sal word, omdat die beweerde misdrywe daar plaasgevind het.
