News

Valkebom laat tegniese adviseur sonder werk

Die lewe het Gerhard Swarts (31) al harde houe gegee.

Terwyl hy praat oor die groot onreg wat die Valke Rugby-unie sy spelers en werknemers aangedoen het, sê hy sy “mond raak droog” van ontsteltenis.
Swarts werk al vir agt jaar by die Valke as hulle tegniese adviseur en is een van die werknemers wat nie hulle salarisse gekry het die maand nie.

Omdat die salarisse gewoonlik op ‘n Vrydag inbetaal word, wanneer die 25ste op ‘n Saterdag val, was hy nog hoopvol dat hy gaan geld kry. Die 25ste, 26ste en 27ste het gekom en gegaan, totdat die bom uiteindelik bars en die Valke aangedui het dat hulle nie gaan geld kry nie. Die rugby-unie gaan aansoek doen vir likwidasie.

“Die Valke is in die graf, hulle bestaan nie meer nie,” sê Swarts oor die unie wat reeds in 1947 gestig is en ‘n roemryke geskiedenis het. Die Valke was in 2006 die Vodacom kampioene.

Skokkend is dat van die personeel aansoek gedoen het vir werkloosheidversekering maar daar is vir hulle gesê die fondse is nooit oorbetaal nie.

Spelers en personeel sit met reuse finansiële uitdagings, omdat hulle volgens Swarts nooit voor die tyd ingelig is dat hulle nie betaal gaan word nie.
Die spelers was nog tot einde September gekontrakteer.

Valke Rugby (Pty) Ltd het in ‘n verklaring gesê hulle is in finansiële nood en nie in staat is om hulle werknemers vir Julie of later te betaal nie. Die amateur gedeelte van die rugby-unie word nie geraak nie.

Wat die toekoms vir die Valke inhou, met sy sowat 18 klubs en Brakpan een van die sterkstes in die land, is duister. Al wat seker is, is dat hy bankrot is.

“Wat die hartseerste is, is dat daar elke liewe dag gepraat is oor waardes, Christelike waardes, eerlikheid. Die spelers moes tot toets skryf daaroor. Waar is die waardes nou?” vra Swarts bitter.

Hy het nog ‘n kleinerige kontrak by Tukkies tot November en het reeds voelers begin uitsteek vir ander werk by onder andere skole.
Dit is tydens die gesprek duidelik dat werkgewers teen sy rolstoel vaskyk, wanneer daar aanstellings gemaak word.

Intussen bly hy by sy ma Elise en sodra die frustrasies te veel raak, klim hy op sy mobiele trapfiets en stoom Springbokstraat uit…al trappende, bitter, maar hoopvol…soos altyd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button