News

Meisie vertel van rillernag saam met ontvoerders

Twee vroue van Hendrina is laasweek Vrydag in hul tuisdorp ontvoer op pad winkel toe.

Mariska Brand (28), een van die slagoffers, vertel ’n bisarre verhaal wat meer vrae as antwoorde los.

Me. Brand sê sy en die jonger Adelé Nienaber (18) het omstreeks 19:00 die aand winkel toe gegaan, om vroulike noodsaaklikhede te koop.

As aanloop tot die naweek se voorval, sê me. Brand dat sy op 10 Junie in haar huis deur ’n man aangeval is. Sy het die man herken as iemand wat al voorheen by die huis was om goed te kom oplaai, namens ’n vervreemde eks-familielid.

Me Brand sê dat sy onder die indruk was dat daar ’n klag by die polisie gelê is na die voorval, maar dat sy nou moes uitvind dat die saak nooit geregistreer is nie.

Daar was ook verskeie voorvalle waar ’n verdagte swart BMW in die omgewing van hul huis opgemerk is.

Lees ook: Twee vroue vermis, moontlik ontvoer

Vrydagaand is die vroue oorval kort nadat hulle die huis in ’n drie-deur Uno verlaat het. Me. Brand sê dat hulle in Viljoenstraat wou draai toe sy ’n beweging by haar deur gesien het. Die straat was pikdonker omdat daar geen straatligte is nie.

“Ek wou nog sê ‘sluit jou deur’, toe het iemand klaar die passasierdeur oopgemaak. Toe ek my kop draai, toe kyk ek in ’n pistool vas,” vertel me. Brand.
Sy sê dat die man net gesê het “Move up” en toe die sitplek gelig het om agterin te klim.

“Ek het gedog daar was net een, maar Adelé het later gesê twee het ingeklim.”

Me. Brand sê hulle is elkeen pen en papier in die hand gestop en na die dorp se watertoring gevat, waar die swart BMW gestaan en wag het. Hulle moes onder dwang briewe skryf aan hul familie waarin hulle hul waarsku om hulle nie te kom soek nie.

Die briewe is deur me. Brand by vriende afgegee, terwyl me. Nienaber in die kar moes wag met ’n pistool teen haar rug.

Lees ook: Vermiste vroue in Middelburg opgespoor – polisie ondersoek moontlike ontvoering

Me. Brand vertel dat hulle daarna uit Hendrina uit gery het en naby die Duvha kragstasie opgeëindig het. Op pad het me. Nienaber haar bewussyn verloor. Die ontvoerders het me. Brand se foon by haar gevat, maar die jonger vrou gelos omdat sy nie gereageer het nie.

’n Grondpad het hulle na ’n sinkgehug, wat lyk asof dit onlangs opgeslaan is, geneem.
Daar is die vroue in die gehug toegesluit.

“Ons het deur die sink gesien hoe die mans buite sit, drink, rook en vuurmaak. Ons het mekaar maar probeer warm hou,” vertel me. Brand.

Toe dit lig word het die mans die sinkhuis se deur oopgesluit en hul aandag op die jonger vrou toegespits. Me. Brand sê dat sy dit nie kon toelaat nie en me. Nienaber grond toe gestamp het en bo-op haar gaan lê het. Sy is geskop en geslaan tot sy haar bewyssyn verloor het.

Me. Brand sê dat die mans op ’n stadium uit die sinkhuis moes gegaan het, want sy het haar bewussyn weer herwin, toe hulle die tweede keer ingestap het. Hierdie keer was sy die teiken. Sy het besef dat hulle die gaspistool wat sy agterin haar broek gedruk het, gaan sien.

Me. Brand sê dat sy die pistool op die aanvallers gerig het en hulle beveel het om eenkant toe te staan.

Lees ook: Vroue huil en skree toe hulle gekry word

Die vroue kon daarin slaag om die Uno se sleutels en me. Brand se selfoon op te spoor en het van die toneel af gevlug.

“Ons wou eers na familie in Middelburg ry, maar het toe besluit om na Oupa se graf in die begraafplaas te gaan, omdat ons gedink het dat ons daar sal veilig voel,” sê me. Brand.

Op pad soontoe is hulle in Viljoenstraat deur ’n lid van die Middelburg Gemeenskapspolisiëringsforum voorgekeer.

“Ek was vieslik met hom. Ek wil hom nog omverskoning vra,” sê me. Brand.

Sy sê dat sy op daardie stadium net ’n broekie aangehad het. ’n Onbekende vrou het vir hulle water en vir me. Brand ’n kombers gebring om haarself mee toe te maak. Hulle is later deur ’n polisievrou na die polisiestasie vergesel.

Die vroue wag nou in spanning dat hul ontvoerders aangekeer moet word.

Intussen het hulle weer ’n SMS ontvang wat lees “Slaap met julle oë oop.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button