News

Covid-19 eis nog ’n inwoner

Die Covid-19 virus het nog ’n Middelburger, mnr. Dewald Labuschagné (73), se lewe geëis.

Sy suster, Anne Cowan, sê dat hy verlede Maandag dokter toe is met ernstige griepsimptome.

Twee dae later was hy só siek dat hy opgeneem is in die Life Midmed Hospitaal en dieselfde aand is hy aan ’n ventilator gekoppel en in ’n geïnduseerde koma geplaas. Hy is gisteraand oorlede.

“Die intensiewe eenheid se personeel was net fenomenaal. Hulle het hom soms bietjie wakker gemaak dat ons met hom op WhatsApp per video kon praat. Dankie vir elke personeellid, in besonder dr. Chaumba, Johan en Lizette, wat met hom gewerk het. Midmed se personeel het nie net die ekstra myl geloop nie, elkeen het drié myl ekstra vir ons en vir hom geloop!”

Me. Cowan sê haar broer was ’n diabeet en het hartprobleme gehad, maar dat hy baie versigtig was om nie die virus op te doen nie.

“Vandat die grendelstaat begin het, het hy altyd net tot by die hek gekom en ons gegroet. Hy het ook altyd sy masker gedra.”

Soos vele ander gesinne wat geliefdes weens die virus aan die dood afgestaan het, het sy mense gemaan om Covid-19 ernstig op te neem.

“Mense besef nie hoe ernstig dit is nie. Eers was dit net in ander lande, toe in Suid-Afrika en uiteindelik in ons dorp. Hierdie siekte is ernstiger as enige ander siekte wat jou liggaam aanval. Moet asseblief nie onverantwoordelik wees nie. Bly weg van ander mense af, dra jou masker en volg al die ander reëls! Hou jou immuniteit gesond. Hoe kan jy bid dat die Here jou gesond moet hou, as jy nie doen wat die regering sê jy moet doen nie!”

Sy het haar broer beskryf as ’n persoon wat baie lief was vir sy familie, veral sy kinders en kleinkinders.

“Hy kon alles doen en het van alles geweet, van visvang tot jag en tuinmaak. Hy was só liefdevolle omgeemens, wat altyd uitgereik het na ander.”

Mnr. Labuschagné word oorleef deur sy kinders, Elize, Jan en Dewald, skoonkinders, kleinkinders, agterkleinkinders, susters Anne en Charlotte en broers Thinus, Leon en Willie.

Hulle is tans besig om reëlings vir ’n roudiens te tref. Hulle sal dit ook virtueel beskikbaar stel.

Vir meer inligting, bel me. Cowan by 082 782 1354.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button