NIE VIR SENSITIEWE KYKERS: Inwoners dink dit is wilde weste soos skote klap
’n Video wys hoe ’n vermeende rower kerm van pyn, terwyl ambulansmanne hulp aan hom verleen na ’n skietery gister in die middedorp op Middelburg.

Dit het geklink soos die wilde weste soos die skote geklap het.
Ek was by ’n vulstasie in die omgewing kort na 08:00 en het ook die skote gehoor. Op daardie stadium het ek gedink dit is lede van die weermagbasis wat oefen en my nie daaraan gestuur nie.
Sowat 15 minute later het die oproep gekom: “jaag na Oos- en Bonckerstrate, daar was ’n skietery! Rowers is geskiet!”

Op die toneel was daar swaar gewapende polisie- en taktiese lede van Middelburg en Jane Furse. Sekuriteitslede van Mid Alarms het saam met die polisie oor heinings gespring om die verdagtes te vang. Lede van Titon Sekuriteit het ook hulp verleen op die toneel.
Daar is vir www.mobserver.co.za vertel dat die groep van drie vroegoggend ’n kitsbank in Jane Furse opgeblaas het. Die polisie het hulle agterna gesit, waarna ’n jaagtog in die rigting van Middelburg gevolg het. Die rowers was in ’n wit Fortuner.
Sowat 30km buite Middelburg, op die Stoffbergpad, het die polisielede gesien dat die groep iets by die venster uitgooi, maar die jaagtog het voortgegaan tot in Middelburg.
Naby Kanonkop het lede van die Middelburg Polisie by die jaagtog aangesluit.

Die rowers, wat waarskynlik onbekend is met Middelburg, het gejaag tot in Cowen Ntulistraat, waar hulle links gedraai het en weer links in Oosstraat.
Hulle het egter beheer oor die voertuig verloor en deur die buitemuur en palissade van Dentco gebars, waarna die voertuig teen die besigheid se muur te lande gekom het.
Die rowers het in alle rigtings gespat, waarna geweervuur gevolg het.
Twee van die rowers is in ’n erf in Bonckerstraat langs ’n buitetoilet gevind. Die een het ’n ligte kopwond gehad en die ander een het ’n skietwond in sy rug gehad. Hy het aanmekaar gekerm van pyn.

Daar is gehoor hoe die twee vir die polisie sê dat hulle van Pretoria afkomstig is.
Intussen het ander polisielede en sekuriteitsoffisiere die area gefynkam, aangesien die derde verdagte nog soek was.
Hulle was nog besig om die ander twee te ondervra, toe die oproep kom dat CCTV Videomateriaal van ’n nabygeleë besigheid gewys het dat die derde verdagte in ’n ou voertuig op ’n erf skuil. Dit was net etlike meters vanaf die toneel waar die Fortuner in die muur vasgejaag het.
Hy is ook gearresteer.

• Die rower wat in die rug gewond is, is na die Witbank Hospitaal geneem, waar hy ’n operasie sal ondergaan. Hy is onder polisiebewaking.
• Die een met die kopwond is net vir die besering behandel en saam met die derde verdagte na Jane Furse afgevoer, waar hulle na alle waarskynlikheid vandag in die hof sal verskyn.
• Die polisie se honde-eenheid is saam met ander lede na die area waar gesien is waar die sak by die venster uitgegooi is. Die honde het ’n springstof-ontsteker in die bosse gevind. Daar word steeds in die area gesoek na bewysstukke.
• Daar word betroubaar verneem dat daar ’n gaspistool in die rowers se voertuig gekry is. Die polisie se forensiese spanne is steeds besig om die voertuig te deursoek vir nog bewysstukke.
