Rowers kom met koronamaskers
Drie minderjarige kinders is Saterdag in die vroeë oggendure by ’n huis in Belfast saam met volwassenes deur rowers vasgebind.
Volgens sers. KC Mcdonald (mediawoordvoerder, Belfast Polisie) het die vier booswigte, wat ‘koronamaskers’ en handskoene gedra het, by die huis ingegaan. Een het ’n handwapen gehad, die ander booswig ’n geweer en twee was gewapen met messe.
Die rowers het die drie kinders van 16, 12 en agt jaar oud, asook twee vroue en ’n man, met kragkabels vasgebind. Die man is in die toilet toegemaak en een van die vroue moes vir hulle gaan wys waar waardevolle artikels in die huis is. Die rowers het televisies, skootrekenaars, luidsprekers, selfone, en juwele geroof.
Een van die slagoffers het vir www.mobserver.co.za (wat anoniem wil bly) vertel dat die een rower sowat 1.68m lank is, “mollerig gebou” en goed Afrikaans gepraat het. Die ander kon glad nie Afrikaans praat nie en het in Zoeloe met mekaar gepraat.
Daarna is die booswigte na buite waar hulle die buit in die gesin se twee voertuie, ’n grys Ford KA (JHM373MP) en ’n wit VW Polo (JNT539MP) gelaai en weggejaag het. Die slagoffer het gemeld dat die rowers in ’n donkerkleurige BMW gery het, aangesien ooggetuies later gemeld het dat die BMW saam met die twee geroofde voertuie van die huis af weg gery het.
As enige persoon die voertuie opmerk, bel die ondersoekbeampte, adj. Shane Coetsee by 084 510 4761 of 013 253 0230.
