News

Motorfiets tjop-tjop teruggekry

Die manne by Mid Alarms is nou al so gesout as dit kom by diewe se wegsteekplekke dat hulle sommer tjop-tjop op ’n gesteelde motorfiets wat in die veld weggesteek is, afgekom het.

Daar is Dinsdagoggend net na 02:00 ’n BMW GS 1200 motorfiets in Hospitaalstraat (Clubville) gesteel.

Die eienaar van die motorfiets sê dat boewe ’n slot by sy elektriese hek gebreek het, die hek van die spoor af getel het en toe deur nog ’n veiligheidshek voor sy motorhuis is om by die motorfiets uit te kom.

Hy het sowat 40 sekondes nadat sy alarm afgegaan het by die venster uitgekyk en gesien dat alles oop staan. Die boewe was toe reeds weg met sy motorfiets.

Mid Alarms reaksie offisiere was blitsig op die toneel en het regdeur die nag gepatrolleer. Die volgende oggend het lede van Mid Alarms se spesiale operasionele eenheid die boewe se spoor gevat.

Die motorfietsdiewe het ’n draad by die gholfbaan geknip en hul buit deur die gholfbaan gestoot het tot by Robertslandgoed waar hulle die wildskamp se draad geknip het. In die wildskamp het hulle die motorfiets in ’n effense gat met gras bedek gevind.

Die motorfiets was so goed weggesteek dat daar amper op dit getrap is.

Die eienaar van die motorfiets was vol lof vir Mid Alarms.

“Ek weet nie waar ons dorpie sou wees sonder Mid Alarms nie. Ek haal my hoed af vir hulle. Hulle het net aanhou soek. Ons het amper op die motorfiets getrap so goed was hy weggesteek.”

Die eienaar sê dat hy nou liewer die motorfiets gaan verkoop omdat hy bang is die diewe kom terug daarvoor.

Motorfiets diewe steek soms hul buit weg en wag eers om te kyk of daar nie ’n opsporingstelsel is nie.

Shane van Rooyen van Mid Alarms sê dat motorfietsdiewe dikwels hul buit eers vir ’n rukkie wegsteek om seker te maak dat daar nie ’n opsporingstelsel is nie, voordat hulle terugkom om die motorfiets in stukke weg te dra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button