Dorp groet afgetrede luitenant-kolonel Thinus Snyman
’n Geliefde in polisiekringe, afgetrede luitenant-kolonel Thinus Snyman, het Donderdagoggend aan ’n hartaanval in Life Midmed Hospitaal beswyk.
As polisieman het hy diep spore regdeur Mpumalanga gelaat.
Hy was die afgelope twee weke in die hospitaal behandel vir longonsteking voordat hy ook positief vir Covid-19 getoets het. Sy dogter Sonet Snyman sê dat sy toestand nog gister stabiel was.
Mnr. Snyman was jarelank in die polisiediens waar hy tot en met sy aftrede, siviele eise by die provinsiale hoofkantoor in Middelburg hanteer het, in die polisie se provinsiale regsafdeling.
Voor dit was hy onder meer stasiebevelvoerder in Standerton en Secunda, en ook verbonde aan die Blinkpan polisiestasie. Hy het na sy aftrede ook by Elize Swarts, destydse balju van die hooggeregshof, gewerk.
Mnr. Snyman laat sy seun Douw, dogters Sonet en Adele en kleindogter Marizel agter.
