Boonop bly daar haweloses en dwelmgebruikers tussen die murasies wat beskuldig word dat hulle steel en plunder.
Rdl. San-Mari Wait het vir die soveelste keer by die Departement van Gemeenskapsdienste by die Munisipaliteit gaan kla, nadat inwoners by haar gaan aanklop het om hulp.
Rdl. Wait sê dat sy al verskeie kere oor die probleme gekla het.
“Dit is tragies dat die eienaar van die huis, mnr. Joe Singh, klaarblyklik nie omgee dat hierdie eiendom van hom so verval nie. Sou hy daarvan gehou het as daar so ’n huis langs hom was? Dit is sy verantwoordelikheid.”
Volgens rdl. Wait is dit deesdae ’n tendens op die dorp dat geskiedkundige huise toegelaat word om te verval, sodat hulle afgebreek kan word.
“Dit is so maklik, die eienaar laat net die historiese huis verval. Dan hoef hy mos nie aan die regulasies dat jy nie ’n huis ouer as 60 jaar moet restoureer, te voldoen nie, want dan is die skade aan die huis mos te erg en kan gesloop word!”
Daar is wel ’n bouwet wat stipuleer dat die huiseienaar nie mag toelaat dat sy eiendom sodanig verval dat dit die waarde van ander eiendomme in die omgewing beïnvloed nie.
Wat haar die meeste bekommer, is dat daar ook nie opgetree word teen die plunderaars nie. “As daar niks meer is om te plunder by so ’n huis nie, sal niks hulle keer om net na ’n ander huis te gaan en dieselfde te doen nie.”
Rdl. Wait het ’n beroep op mnr. Singh gedoen “om na die tafel toe te kom, sodat daar gekyk kan word na ’n oplossing by hierdie eiendomme!”
• Mnr. Singh se dogter, Abby, en seun, Christopher, het bevestig dat die twee eiendomme (Frame 38 en die oop erf oorkant die pad) aan hul pa behoort.
Mnr. Christopher Singh sê hyself het al verskeie kere die polisie na die huis in Framestraat 38 laat ontbied oor al die klagtes wat hulle gekry het. Hy was verras toe hy hoor dat die dak van die huis al weggedra is en het onderneem om te gaan kyk wat daar aangaan.
•Lees meer oor die huis in hierdie week se uitgawe van die Middelburg Observer.
