News

Skote klap by ouetehuis

Die rustige stilte van die Herfsakker Ouetehuis op Groblersdal is laatmiddag wreed versteur deur skote wat klap en ’n voertuig wat deur die tehuis se muur bars.

Alles het begin toe ’n man met sy voertuig afgejaag het op ’n lid van die polisie se speurtak.

Sersant Godfrey Miyendze het vanaf die polisiestasie in die rigting van Laerskool Julian Muller gestap, toe ’n voertuig op hom begin afry.
Hy het begin hardloop en om die hoek in Robertsonlaan by Herfsakker af gehardloop, in ’n poging om uit die voertuig se pad te bly.

Die man in die voertuig het skielik met sy voertuig omgedraai en reguit op Sersant Miyendze afgejaag.
Sersant Miyendze het drie skote op die voertuig gevuur, maar die bestuurder het net vinniger gery.

Die man het Sersant Miyendze deur die muur van die ouetehuis gedruk.

Die voertuig het tot stilstand geruk en die lawaai het deur die ouetehuis gedreun.

Die man het na bewering uit die voertuig geklim en Sersant Miyendze met ’n baksteen oor die kop geslaan.

Inwoners van Herfsakker het Gunmar Sekuriteit en Groblersdal polisiestasie gekontak.

Polisielede het na die toneel gehaas en die man in hegtenis geneem, waarna Sersant Miyendze na die naaste hospitaal vervoer is deur Gunmar Sekuriteit/LowMed EMS.

Sersant Miyendze word tans in die Life Midmed Hospitaal in Middelburg behandel en het reeds Sondag ’n operasie ondergaan vir ’n erge fraktuur aan sy been.

Samson Kgowa (38) het Maandag in die Groblersdal Landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord. Die saak is uitgestel na Woensdag, 19 Augustus vir ’n borgaansoek.

Volgens Stanley Magaela, polisiewoordvoerder, is die rede vir die man se aanval op Sersant Miyendze onbekend.

Omstanders beweer egter dat die aanval plaasgevind het oor ’n vrou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button