News

Prys as smokkelaar van die jaar gaan aan…

Ons sou kon doen met ’n miljoen, sing Lucas Maree.

Danksy Cyril Ramaphosa (Pty) Ltd se grendelstaat regulasies is daar na Covid-19 2020 ’n hele paar miljoenêrs.

Nou nie net hulle wat lekker vet korrupsiekontrakte gekry het nie, maar op ons eie dorpie is daar gebrou, gesmokkel en goedkoop sanitering teen duur pryse bekom.

Wanneer die son finaal gesak het oor die grendelstaat, sal daar vele verhale vertel word van die grootste smokkelnetwerk sedert Al Capone en sy trawante Chicago regeer het…en nie in die onderwêreld van Johannesburg nie, maar in die voorstede van Kanonkop, Dennesig, Gholfsig en wie ook waar op Middelburg.

Daar was vele kreatiewe maniere wat selfs ou Capone sou jaloers maak. Sigarette is pizzahouers, drank in vreemde bottels, vensters wat by kuierplekke toegeverf is, waar jy by die agterdeur kan inglip, drank in uitgeholde vrugte.

Wyn is agter in vragmotors tussen ander produkte vanaf die Kaap aangery.

Daar was selfs aflewerings vanaf Nelspruit na Pretoria.

By een kafee het die “spotter” buite gesit en dadelik die rokers uitgeken wat hulle na binne begelei het.

Sommige aande het dit soos die Johannesburg taxistaanplek gelyk, soos smokkelaars besig was met aflewerings.
Daar was restaurante wat Ramaphosa (Pty) Ltd in hulle peetjie gestuur en drank oop en bloot bedien het.

Nog een het die glase gevul, eers wanneer besoekers die regte kode gegee het. Natuurlik teen R35 ’n bier en R30 ’n glasie wyn.

By nog ’n restaurant is daar gekuier dat die biesies bewe en die polisie was selfs twee keer daar nadat die bure gekla het van die geraas.

Die komieste was die man wat in Dennesig gesien is met bottel brandewyn in die hand, op pad om te gaan aflewer, oop en bloot, net so.

Jy het gereeld gewonder of die regering werklik gedink het mense het ophou rook of drink.

Daar was natuurlik op groot skaal gebrou en gestook, van gin tot vodka, bier en selfs brandewyn. Houtblokkies was die inding vir die regte smaak, word vertel
Pynappelbier en mampoer was die bekendste produkte in die mark.

Selfs tuine is omskep in brouerye.

Natuurlik was daar sommige smokkelaars wat aan die pen gery het, maar hulle was in die minderheid.

Soos die vrou wat haar sigarette reg voor www.mobserver.co.za se kantore in die bagasiebak gelaai het, toe twee polisiemanne verby ry. Sy moes die handelaar uitwys of self aangekla word. Die verskaffer is aangekeer..

En die prys as smokkelaar van die jaar gaan aan…die ou wat brandewyn met sy hommeltuig gaan aflewer het!

Of miskien was daar meer vindingryke Al Capones waarvan ons nie bewus is nie?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button