Leerling en onderwyser gryp mekaar in klaskamer
’n Video, wat by Hoërskool Middelburg in ’n klaskamer geneem is, wys hoe ’n onderwyser Jacques Ferreira en ’n Graad 11 skolier mekaar aan die kraag beet het.

Die voorval het net meer as ’n maand gelede gebeur en word tans onder inwoners rondgestuur.
Aan die begin kan mnr. Ferreira gesien word waar hy ’n bos sleutels op ’n lessenaar neersit en dan probeer om die seun se hand wat hom aan die kraag beet het, los te maak, terwyl hy sê “Ek het vir jou gesê los.” Die twee praat verder maar dit is nie duidelik wat hulle vir mekaar sê nie.
Daar kan later gehoor word hoe van die leerling se klasmaats vir hom sê om te los en hoe die persoon wat die video neem vir hom sê “Los net. Hierdie is nie slim nie ou.”
Daar is ’n gestoot tussen die twee partye waarna die leerling begin om die onderwyser na agter te stoot, voordat ’n ander leerling inspring en hom van die onderwyser af wegtrek.
Die video hou daar op.
Hoërskool Middelburg se hoof, mnr. Johan Stronkhorst, sê dat hy nie verder kommentaar wil lewer nie buiten om te sê dat die voorval in skooltyd plaasgevind het en dat die saak hanteer is.
Daar kon met ’n anonieme bron gepraat word wat gesê het dat die onderonsie begin het oor ’n sleutel wat in die klas rondgegooi is en wat deur mnr. Ferreira afgevat is.
“Ek kry hom baie jammer. Wat doen jy in so situasie? As hy sy hande eerste vir daai seun gelig het was hy sy werk kwyt,” het die bron gesê.
Daar word verneem dat mnr. Ferreira se hempsknope in die onderonsie afgeruk is.
