News

Bejaarde boer byna deur ‘polisiemanne’ beroof

Twee ‘polisiemanne’ was deel van ’n bende wat ’n bejaarde boer probeer beroof het.

Die boer, wie se identiteit anoniem gehou word op sy versoek, sê dat hy Saterdag op pad terug van Pretoria af was, toe die voorval plaasgevind het. Hy het sy vuurwapen by die huis gelos, omdat hy nie lus was vir die rompslomp om daarmee deur die padblokkade te gaan op pad na Gauteng nie.

In Middelburg het hy gou by Watloo Meat and Chicken in Walter Sisulustraat gestop. Terwyl hy besig was om te betaal het twee mans hom genader. Hulle het hul polisie identifikasie kaartjies aan hom getoon en gesê dat iemand buite besig was om by sy voertuig in te breek.

Die boer sê dat die “polisiemanne” geloofwaardige identifikasie kaartjies gehad het met die polisie kenteken daarop. Hulle het ook albei standaard 9mm pistole in dieselfde standaard wapenskedes aan hul gordels gehad.

Lees ook: Blue light hijackers target N4

Hy het glad nie onraad vermoed nie en voor hulle uitgeloop na sy voertuig, ’n Suzuki Jimny. Daar was niemand by die voertuig nie en hy het dit oopgesluit en agter die stuurwiel ingeklim. Die twee polisiemanne het skielik van beide kante af vuurwapens op hom gerig. Kort daarna was daar twee jonger mans wat die deure oopgeruk het.

Met hul aankoms het die polisiemanne weggehardloop.

“Gee jou karsleutels laat ons ry,” het een van die mans aan hom gesê. Hulle was glo agter sy geld, sy vuurwapen en sy karsleutels aan. Die boer het besluit om terug te baklei.

“Ek het kop gehou en hom teruggestamp, uit by die deur waar hy ingekom het. Dieselfde tyd het ek begin vorentoe ry. Toe tel die een ’n baksteen op en probeer my windskerm uitgooi,” vertel die boer, wat van Lydenburg af kom.

Hy het aanhou ry en daarin geslaag om van die boewe af te vlug. Hy is reguit polisiestasie toe. Daar het ’n polisiebakkie met twee lede in gestaan en hy het hulle gevra om hom te help om na die skuldiges te soek, omdat hulle nog in die omgewing moes wees.

“Hulle het vir my gesê dat hulle my nie kan help nie, want daar was nie nog ’n voertuig beskikbaar nie. Ek was so geskok ek het besluit ek gaan nie verder sukkel nie. Toe ry ek huistoe, beskadigde windskerm en al.”

Die boer sê dat hy met terugblik duidelik kan agterkom dat dit ’n bende is wat hom geteiken het.

“Hulle dink omdat mens oud is, is jy ’n maklike teiken. Ek was so geskok. As ek my vuurwapen by my gehad het was dit dalk ’n ander storie. Die ding het my tot gister toe nog gepla,” sê die boer.

•“Polisiemanne” het ook op ’n huis toegeslaan en ’n gesin se kos afgevat, wat hulle tydens die grendeltyd as donasie gekry het.

• ’n Kleuter is verlede jaar uit ’n motor gegryp in Walter Sisulustraat, dieselfde omgewing waar die boer aangeval is. Videomateriaal wys hoe die ma vir ’n man skree om haar kind te los. Die ouer boetie (9) spring uit die kar agter die boef aan, wat die kleuter laat val in die pad van aankomende verkeer.

Lees ook: Ma gil “Los my kind!” toe man met mes haar kleuter gryp

Die skuldiges het nooit aan die pen gery nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button