Daag daar in Julie so eenmeter, geelvet-stuk-biltong, by die kantoor op. Dit is verjaardagtyd en dit beteken die tradisie van biltong en warm brood word voortgesit.
Ons omgeedorp maak verjaardagtyd elke jaar ekstra spesiaal, met gekerfde biltong, nat biltong, droë biltong, geelvet biltong, biltong om van te kies en keur.
Maar toe begin die nagmerries, nie oor al die vleis nie, maar oor wie die beste biltong verkoop. Ma het hoeka gesê te veel rooivleis voor jy gaan slaap, gee jou nagmerries.
Die lang stuk geelvet het van Farm Inn af gekom. Geelvet is mos goed vir die hart, volgens die rooivleis produsentevereniging? Die vet weet! Jou gewete pla in elk geval nie, wanneer jy hom stuk vir stuk met die biltongkerwer, wat ook ’n geskenk was, in blokkies sny nie.
Wessie van der Westhuizen het gebel met verjaardagwense en toe hoor hy daar is biltong van Vleismark af in Groblersdal. Volgens Wessie die beste biltong in die kontrei.
Vanaf OK Grocer in Meyerstraat was daar biltong, lekker droog, met baie speserye.
Nog ’n biltongpuris het hoog en laag gesweer Blinkwater Slaghuis se biltong is die beste.
En moet nie stry met ’n Frank’s Meat ondersteuner nie.
Die nagmerrie het al erger geword: Wie het die beste biltong?
Dit was soos Ford teen Alfa destyds op Kyalami, waar daar vuis geslaan is oor wie die beste kar het.
Wou later vir Jan Braai bel om ons kontrei se biltong te kom beoordeel. Maar weet Jan van braai of van biltong?
Het gedink ons moet ons eie biltongproemeester, Jana Boshoff, ook bekend as PlaasJana, inroep, want sy weet tot watter bees het die beste biltong.
Meskien moet ons ’n kompetisie hou om te kyk wie het die beste biltong.
Maar gaan hulle inskryf?
As die biltongmanne so erg is oor die gehalte van hulle biltong, soos Alfa en Ford destyds oor hulle karre, sal hulle mos nie bang wees nie?
