News

Motorfietsryer tref bakkie gesig eerste

Rohan Wessels (29) word steeds in die trauma intensiewe eenheid van die Milpark Hospitaal behandel, nadat hy op 28 Augustus in ’n motorfietsongeluk in Middelburg betrokke was.

Sy ma, Magda, sê die ongeluk het in Lilian Ngoyistraat (Kanonkop) plaasgevind.

Hy het omstreeks 22:30 vanaf Nagskof in Lilian Ngoyistraat afgery. Persone wat in die omgewing bly, sê hulle het gehoor hoe sy motorfiets stadiger ry toe hy oor die eerste spoedwal gaan.

Laer af in die straat, toe hy stadiger ry vir die tweede spoedwal, het hulle ’n slag gehoor. “Hulle sê dit het soos ’n geweerskoot geklink.”

Rohan het gesig eerste die agterkant van ’n bakkie getref. “Volgens die opmetings wat my man, Gerhard, gevat het, lyk dit of die voertuig voor hom ingedraai het en uitgeswaai het, waarop hy die kant van die bakkie agter geslaan het.”

“Mnr. Johnny da Souza was eerste by Rohan en gesien dat hy nie asemhaal nie, waarop hy hom omgedraai het en Rohan begin roggel en gesnak het na sy asem.”

Lees ook: Biker familiy in grief over death of Adriaan

’n Ander persoon het ’n paramedikus gebel, wat dadelik met sy aankoms vir Rohan begin suurstof gee het.

“Ons het geslaap en ons buurman, wat ook motorfietsry, het ons laat weet van die ongeluk. Ons het soontoe gejaag, maar Rohan was reeds hospitaal toe geneem. Ons kon egter sien dit is sy motorfiets.”

By Life Midmed Hospitaal is skanderings van sy gesig geneem en is hy weens die aard van sy gesigbeserings, per helikopter na die Milpark Hospitaal geneem, waar hy sedertdien in die trauma intensiewe eenheid behandel word.

“Hy het geen beserings aan sy lyf nie, alles is in sy gesig,” sê me. Wessels.

Rohan het frakture aan sy voorkop, albei sy oogbanke en ook aan die bo- en onderkant, asook die kant van sy kakebeen. Sy tande is beskadig en is daar reeds vir hom draadjies ingesit.

Rohan se brein was geswel na die ongeluk en hulle kon nie dadelik begin om die skade aan sy gesig te herstel nie. Die swelling het gelukkig verlede week begin sak en kon dokters Vrydag en Sondag operasies op sy gesig begin doen.

Lees ook: Drie motorfietsongelukke in omgewing

“Hy het reeds 10 plate in sy gesig en die dokters het eers toe hulle opereer, gesien dat hy ook ’n sny in sy tong het, wat hulle moes regmaak. My kind gaan vir lank nie kan eet nie.”

Me. Wessels sê Rohan is sedert die ongeluk in ’n geïnduseerde koma en aan ’n ventilator gekoppel en weet hulle nog nie of daar enige breinskade is nie.

“Ek gee nie om hoe ek my seun terugkry nie, hy moet net herstel en huistoe kom.”

Weens die Covid-pandemie kon hulle aanvanklik nie vir Rohan gaan kuier nie, maar die dokters het hulle Vrydag gelukkig toegelaat om hom te sien voor die operasie.

“Net een persoon mag in die middag tussen 16:00 en 16:30 vir hom gaan kuier en ons ry elke tweede dag deur soontoe.”

• Die Wessels-egpaar wil graag al die personeel van Life Midmed, asook die Milpark Hospitaal bedank vir hul puik diens.

Hulle sê ook dankie vir almal wat hulle ondersteun deur middel van oproepe en boodskappe.

“Dankie vir almal se gebede, dit hou ons staande.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button