News

Hoe kon die aarde Gidie net so insluk?

Dit is vandag presies 45 jaar gelede dat Gidie (Gideon) Nel, wat toe 45 jaar oud was, verdwyn en nooit weer gesien is nie.

Hy het die oggend van 8 September 1975 soos gewoonlik op die personeelbus geklim, kosblikkie in die hand, om by Ferrometals, net buite Witbank, te gaan werk.

Hy het nie die aand teruggekeer na sy huis in Dodrechtstraat 26, waar sy vrou Nelsie bekommerd gewag het nie en na ’n beloning van R100 en jarelange soektog, is dit steeds asof die aarde hom ingesluk het.

Daar is later bespiegel dat hy in een van die oonde by die fabriek geval het, sonder dat iemand dit gesien het, omdat dit die laaste plek was waar hy lewend gesien is.

In 1996 het die Middelburg Observer berig dat mnr. Nel al 21 jaar weg is.

Sy broer, Fielie, het al die jare bly hoop dat hy tog weer sy verskyning sou maak en het gereeld berigte oor sy verdwyning in koerante geplaas:

“Gidie is 45 jaar oud, weeg 60 kilogram, dra ’n bril, het grys hare met blou oë, ’n ligte snor en ’n glasoog.”

Daar was elke keer mense wat beweer het Gidie is gesien, maar elke leidraad het op niks uitgeloop nie.

Mense het die gesin gebel en beweer dat hulle mnr. Nel op Marble Hall opgelaai het en hom by Volks Meubileerders op Witbank sou aflaai, maar dit het later net geblyk ’n siek grap gewees.

Sy ma, Joey, het tot met haar dood gesê “as sy net ’n hopie grond gehad het om heen te gaan” sou sy tevrede gewees het.
Sy is met Gidie se geheim na haar graf.

Nou is dit al 45 jaar en die geheim van Gidie Nel leef voort. Hoe kon die aarde hom net so insluk of het hy tog in ’n hoogoond by Ferrometals geval?

Niemand sal waarskynlik ooit weet nie…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button