Inwoner sterf terwyl hy damwal bou
’n Oud inwoner van Middelburg het Woensdag in ’n fratsongeluk gesterf, terwyl hy besig was om ’n damwal te bou.
Espere Brink (77), onder inwoners bekend as “Oom Spierie”, het jare se ervaring met swaarmasjienerie en grondverskuiwing. Hy is verantwoordelik vir die bou van menige damme in die omgewing.
Mnr. Brink en sy seun, met dieselfde naam, was Woensdag besig om ’n damwal by Rocky River Lodge, in die Elandslaagte omgewing, te bou, toe die ongeluk gebeur het. Mnr. Brink se skoondogter, Marie, sê dat sy die voorval as ’n fratsongeluk beskou.
“My pa het jare se ondervinding met die masjiene. Ek beskou dit as ’n frats.”
Hulle was besig om die damwal te bou en mnr. Brink het bo-op die wal gestaan, terwyl die masjien van onder die wal grond na bo geskep het, om vasgetrap te word, toe die wal skielik meegee. Mnr. Brink het na onder geval en tussen die wiele van die masjien beland. Sy hondjie Meisiekind, wat soos sy skaduwee was, was nie die dag saam met hom nie.

Mev. Brink sê haar man het by sy pa se liggaam gewaak, tot die forensiese eenheid klaar was en hom verwyder het. Pa en seun was baie na aan mekaar. Sy liggaam is gister (Donderdag) deur forensies vrygestel en na Avbob vervoer, waar die familie hom kon gaan groet.
“Gee vir iemand blomme terwyl hulle lewe. Dit help nie jy probeer dit op hul begrafnis doen nie. Dit was vir ons ’n groot skok, hy is die oggend uit die huis en is skielik weg,” sê mev. Brink.
Sy het haar skoonpa as iemand beskryf wat altyd hulpvaardig was en wat sonder om te skroom mense in nood sou help. Hy was ’n “dierbare korrelkop” wat vir sy kinders en kleinkinders geleef het.
Die Brink familie bly al dekades in Middelburg en was vroeër een van die eerste intrekkers in Kanonkop. Mnr. Brink het ten tye van sy afsterwe op ’n plot langs die Stoffbergpad in die Keerom gebied naby die Honde Eenheid gebly.
“Toe my pa hulle destyds die huis in Kanonkop gebou het was hier nog net twee ander huise,” vertel mev. Brink.
Mnr. Brink laat sy vrou, vier kinders en kleinkinders agter. Sy begrafnisreëlings was nog nie teen druktyd gefinaliseer nie.
• Rocky River Lodge wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie.
