Met die koms van professionele rugby in 1995 is die hart van rugby uitgeruk.
Die dorpshelde wat by die koöperasie, die bank, die spoorweg en die fabriek gewerk het en die harde boere wat by oefeninge opgedaag het van die lande af, het stelselmatig verdwyn.
Daar was nie meer ’n Suidoos-Transvaal, Stellaland, Verre Noord, Noordwes Kaap, Noordoos Kaap, Oos-Transvaal, Vaaldriehoek en Wes-Transvaal nie.
As klein seuntjie het jy die kleurvolle provinsiale kentekens versamel, ’n aalwyn, koringaar, varkoor en mooi rooi roos.
Karakters soos Herklaas Engelbrecht, Wors Prinsloo, Ghriespomp van der Merwe, Boerpens Strydom, Vleis van Zyl en Jan Tromp is vervang met ontoeganklike miljoenêrs.
Die mammies teen die mure en die lekker rugbyonthale is net herinneringe.
Dorpsvelde waar gemeenskappe saamgetrek het Saterdagmiddae en die gees hoog geloop het, is nou hartseer geroeste stellasies.
En hoe meer professioneel en hoe minder provinsies, hoe minder rugbyspelers.
Daar word bespiegel dat die land op die einde met net vier franchises gaan sit.
Maar wat van die res?
Daar is nie ’n beter man om te vra as Willem Strauss nie, wat die amateurera beleef het en gesorg het dat Suidoos-Transvaal omskep word tot die Pumas.
Strauss het die media destyds versoek om die naam Puma te gebruik, omdat dit afgelei is van Mpumalanga. Hy het slim gaan werf en nie kort voor lank nie het byna die hele Noord-Transvaal B-span vir die Pumas uitgedraf. Chaka Willemse, Marius Goosen, Dan van Zyl, Franco Smith…
Miskien daarom besef Strauss die belangrikheid van klubrugby en het hy ’n sterk klubliga in Pretoria gevestig. Hy weet hoe belangrik klubrugby is.
“Klubrugby in die land is dood,” sê Strauss.
Dit is volgens hom kommerwekkend dat soveel talent na skool verlore gaan.
“Hoe meer geld, hoe minder spelers.”
Maar waarom nie amateur rugby weer sterker maak, sodat die spel sy regmatige plek inneem op Rustenburg, Upington, Polokwane en Middelburg nie?Strauss stem saam dat die trots om vir jou dorp te speel, teruggebring moet word.
Om dit te doen sal ’n Verre Noord, Noordwes Kaap, Oos-Transvaal en selfs ’n Suidoos-Transvaal moet herleef, al beskik die provinsie oor die Pumas as professionele span.
Oos-Transvaal se Valke is reeds in die proses om gelikwideer te word. Waarom dan nie maar weer Brakpan, Springs en Benoni se dorpspelers inspan nie?
Amateur spelers kan speel vir ’n provinsiale baadjie en om raakgesien te word vir geldrugby.
Maar die vraag kan tereg gevra word of geld en professionele rugby nie administrateurs (en spelers) verblind het nie, Vier franchises wat die goue eiers lê en na die duiwel met die res?
