Daar was ink in my bloed
Hoe verwoord jy 45 jaar in ’n paar paragrawe? Skuus, hoe verwoord jy 45x7 jare in ’n paar paragrawe?

Glo my, een jaar in die gemeenskapsjoernalistiek is gelyk aan sewe mensejare.
Dit was Augustus, 45 jaar gelede, toe ons skool gebank en in George Daniels se huis in Mainstraat op Witbank sit en koffie drink het, toe sy ma, Heila, ons uittrap met ’n “waarom gaan werk julle nie die vakansie nie”.
Dit is opgevolg met ’n teenvraag “nou waar moet ons werk kry”. Sy het ’n Witbank Nuus advertensie onder ons neus gedruk: “Joernaliste gesoek vir die vakansie”.
Daar en dan is ons na die Witbank Nuus kantoor om aansoek te doen. Die lys van aspirant joernaliste was lank, maar die rooikop latere redakteur, Jeanette McClean, het op my en George, Cecil Smart en Roselyn Penny besluit.
Natuurlik was pa nie gelukkig met die idee dat ’n man gaan “storietjies skryf” nie, want mans werk by die spoorweg soos my oudste drie broers, die gevangenisdiens of die polisie. Sy wens vir my was om ’n spoorweg polisieman te word. (Genade!).
Teen die Witbank Nuus se een staalkas was daar ’n koerantberig: “Daar is ink in my are”.
Twee weke later, verskeie voorbladberigte en ’n onderhoud met die Afrikaanse Sakekamer voorsitter, Andre Swart, wat prominent gebruik is, was die suksesvolle bloedoortapping afgehandel: Daar was ink in my bloed!
’n Droom om die volgende jaar onderwys te gaan studeer, is gou deur die redakteur, Leonard “The Pen” Neill, in die kiem gesmoor: “Waarom vir vier jaar gaan studeer, terwyl jy in Desember kan begin werk?”
Kon nie wag om die laaste vraestel te skryf nie en op 3 Desember 1975 met my groen DHC tienspoed resiesfiets na die kantoor gejaag.
Dit was in die tyd van swart-en-wit fotografie en Olivetti tikmasjiene.
Neill was ’n boksvegknoper, het al op 14-jarige ouderdom begin berigte skryf en was ’n redakteur van formaat, die beste leermeester ooit.
Nou is dit 45 jaar later.
Die ink het in strome gebruis.
Maar hoe verwoord jy 45 jaar van die lewe wat met ’n intesiteit geleef is wat min mense beskore is?
Jy kan nie.
Hoe verwoord jy 45 jaar se verhale van dood en lewe, hoop en wanhoop, die mees bisarre, tot die verstommendste wonderwerke?
Jy kan nie.
Jy kan net elke dag leef met diepe dankbaarheid om deel te kon wees van ’n beroep waar jy elke dag die lewe in sy volheid kon proe.
Saam met Quintin Reynolds kan jy sê:
Ek behoort aan ’n goeie beroep, ’n beroep wat deur ’n paar uitstekende verslaggewers, Matteus, Markus, Lukas en Johannes begin is.
Een of ander uitstekende verslaggewer in Genesis het die storie van die Skepping in ongeveer 400 woorde vertel, en daar is slegs 300 woorde in die Tien Gebooie. Dit is goeie verslaggewing.
Die wêreld sou nooit van Onse Heer geweet het as dit nie vir hierdie verslaggewers was nie. Vandag lees ons steeds hulle stories en gaan dit nog vir duisende jare doen.
Christus het nooit ’n geskrewe reël nagelaat nie. Ons ken Hom net deur verslaggewers van sy tyd.
