Malawiër verdrink in Middelburgdam
’n Malawiër wat die afgelope jaar vir ’n inwoner van Kanonkop gewerk het, het gister in die Middelburgdam verdrink.

Polisieduikers en ’n lid van die Lydenburg honde-eenheid, ondersteun deur lede van Station 35, Suid-Afrikaanse Seeredding Instituut op eMalahleni, is steeds besig om na die liggaam te soek van mnr. Henry Young Mikwanda (31).
“Eers toe hy inspring, het hy besef hy kan nie swem nie. Ek onthou die skok op sy gesig,” vertel mnr. Perrin O’ Neill wat bo op die kranse staan en wag, terwyl daar na mnr. Mikwanda gesoek word. “Hy het my ook amper laat verdrink. Ek het hom probeer uithaal, maar hy het my onder die water ingetrek. Ek het vir hom gesê: ‘Henry, calm down, I will help you,’ maar ek dink hy het te veel gestres. Ek wens ek kon die tyd terugdraai.”
Mnr. O’Neill sê hy en ’n vriend en Henry, wat die afgelope jaar by hulle op die erf bly en ’n algemene werker vir hom is, het gister die boot gaan toets wat mnr. O’Neill vir iemand reg gemaak het. In die middel van die dam het mnr. O’Neill in die dam gespring om af te koel.
Hulle het ’n ent verder gery tot by die area wat hengelaars ken as “die baai” onder kranse. Hulle het gestop en wou mnr. O’Neill en sy vriend weer swem. Henry het ook ingespring, maar was dadelik in die moeilikheid. Mnr. O’Neill sê hy het alles probeer om sy lewe te red, maar Henry het te veel gespartel en kort daarna onder die water verdwyn. Hulle het ’n paar keer ingeduik, maar kon hom weens die diep water nie sien nie.
Hy het die Life Midmed Hospitaal gebel vir hulp. “Ek het drie oproepe gekry vanaf ambulansdienste wat gevra het waar dit is.” Sowat 45 minute later het die eerste hulp opgedaag, maar Henry het nooit weer opgekom nie.
Daar is tot laat gister na hom gesoek en het die soektog vanoggend aangegaan. Die geweldige wind en waterstrome bemoeilik tans die soektog.
Mnr. O’Neill sê Henry het in 2018 vanaf Malawië na Suid-Afrika gekom. Hy het hom in Middelburg opgemerk en vir hom werk en blyplek aangebied. “Hy het ’n dieselwerktuigkundige kwalifikasie!”
Mnr. O’Neill het aangedui dat hy mnr. Mikwanda se broer gaan kontak om by hom te kom werk, “om die familie te help. Henry was die enigste broodwinner vir die familie en as sy broer by my kom werk, dan het hulle darem steeds ’n inkomste.”

