News

Aanvaller byt boer se vinger byna af

’n Aanvaller het ’n boer se vinger byna afgebyt en ’n ander een het aan hom erken dat hy die boer se pa doodgemaak het.

Mnr. Pieter Honeyborne moes Saterdag steke aan sy vinger kry waar die betreder hom gebyt het. Op videomateriaal hoor jy ook hoe een van die mans sê dat hy mnr. Honeyborne se pa doodgemaak het.

Mnr. Honeyborne se pa, Piet, is in 2009 in sy huis op die plaas, Goedehoop, doodgeskiet.

“Sy woorde bevestig net wat my ma destyds gesê het dat daar tussen 10 en 11 rowers die aand van my pa se moord was.”

Mnr. Honeyborne vertel dat hy Saterdagoggend gou gery het na die werkswinkel op die plaas om ’n battery te gaan aflaai.

Lees ook: Farm attack victim’s grave dug up, desecrated

Soos hy aangery gekom het na die werkswinkel, het hy ’n bakkie herken, wat sowat 300m voor die werkswinkel op sy plaas gestaan het.

“Dit was dieselfde bakkie wat ek verlede week op die plaas gejaag het, nadat daar goed gesteel is. Terwyl hulle weggery het, het hulle die gesteelde goed van die bakkie afgegooi. Ek het die registrasienommer laat toets en dit is vervals. Dit behoort aan ’n Jeep Cherokee!”

Mnr. Honeyborne het gestop en die polisie probeer bel. Die polisielid wie hy gebel het, het nie geantwoord nie en hy het sy ma gebel. Sy het hom minute later teruggebel en gesê die polisie is op pad.

Hy het sowat 45 minute in sy bakkie bly sit. In hierdie tyd het drie verdagtes na sy voertuig toe aangekom en die deure probeer ooppluk.
Mnr. Honeyborne het die hele tyd videos geneem.

“Hulle het seker besef ek bel die polisie en het weggejaag. Ek het besef, wat ookal gebeur, ek moet hulle stop.”
Hy het die bakkie gestop en die insittendes het begin hardloop.

“Ek weet dit was dom om dit alleen te doen, maar ek het uitgespring en hom agterna gesit.”

Die oomblik toe hy die man inhardloop, het die betreder omgespring, hom aan die hand beetgekry en hom gebyt.

“Ek is nog nooit deur ’n hond gebyt nie, maar hy het gehou soos ’n hond wat jou byt. Hy wou nie laat los nie!”

Mnr. Honeyborne het in ’n gestoei betrokke geraak met die man en uiteindelik sy hand los gekry. Deurentyd het hy geskree vir hulp. “Daar het talle werkers gestaan, maar niemand het gehelp nie.”

Hy onthou ook hoe een van die betreders wat saam met die byter was, langs hom geloop en uitdagend vir hom gesê het dat hy sy pa doodgemaak het.

“Daardie man wat dit gesê het, se broer, David Nkosi, is ook destyds gearresteer na my pa se moord en was twee jaar in die tronk. David het erken dat hy die nag met die moord daar was, maar nie die moord gepleeg het nie, maar net by die deur gestaan het.”

Kort daarna het die polisie opgedaag en die drie verdagtes gearresteer.

Mnr. Honeyborne het self hospitaal toe gery waar die bytplek met steke geheg is.

• Hy het gesê dat hy klagtes van betreding en aanranding aanhangig gemaak het teen die man wat hom gebyt het en betredingsklagtes teen die ander twee.

• Terwyl die gebeure Saterdag aan die gang was, het hy die Amersfoort Noordgroep daarvan in kennis gestel, wat op ander noodgroepe gevra het dat mense mnr. Honeyborne moet gaan help.

 

https://vimeo.com/457700367

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button