Familie van man wat verdrink wag by dam
Die familie van die mnr. Henry Young Mikwanda (31), wat Saterdag in die Middelburgdam verdrink het, is ook nou by die dam om te wag dat sy liggaam gekry word.
Polisieduikers het vanoggend weer hul soektog voortgesit na die lyk van mnr. Mikwanda, ’n Malawiër wat die afgelope jaar by ’n inwoner van Kanonkop gewerk het.
Hy het Saterdag verdrink by die diep baaigedeelte by die Middelburgdam. Die soektog word belemmer deur sterk onderwaterstrome en die koue water. Die oppervlakwater was gister 13 grade, maar een van die duikers het tydens die soektog afgegaan tot op 27m en die water was net nege grade.
Mnr. Perrin O’Neill (van Kanonkop, Middelburg) sê Henry het vir hom gewerk en ook op sy perseel gebly.

Mnr. O’Neill herstel bote en hy, mnr. Mikwanda en een van mnr. O’Neill se vriende het die boot gaan toetsbestuur op die dam.
By die baaigedeelte het mnr. O’Neil en sy vriend in die water gespring om af te koel. “Henry het ook ingespring. Die wind was verskriklik sterk en het die boot weggedruk.”
Die water was geweldig koud en hy onthou die skok op mnr. Mikwanda se gesig. Kort daarna het hy gesien mnr. Mikwanda is in die moeilikheid en het teen die wind gebeur om hom te gaan help.
Lees ook: Malawiër verdrink in Middelburgdam
Mnr. Mikwanda was egter paniekerig en het mnr. O’Neill die hele tyd ondertoe getrek. Hy het hom probeer kalmeer, maar dit het nie gehelp nie.
Hy was al naby die boot met mnr. Mikwanda onder sy arm, toe mnr. Mikwanda hom weer na onder trek en onder die water verdwyn.
Die twee mans het verskeie kere in die water ingeduik, om hom te probeer kry, maar hulle kon hom nie kry nie.
• Mnr. O’Neill het mnr. Mikwanda se familie na die dam vergesel. Hulle is mnre. William Andrew Chimwemwe (stiefbroer), Chisomo Halold Mbewe (neef) en Omar Saiti (swaer).
Mnre. Chimwemwe en Mbewe werk in ook Middelburg, maar mnr. Saiti het vanaf Johannesburg na Middelburg gependel.
Aldrie is ook Malawiese burgers.
