News

Pa jaag vir verkeersman weg om by kinders te kom

’n Pa het deur die dorp se strate gejaag en selfs onder ’n verkeersman uitgejaag om by sy kinders te kom toe inbrekers by sy huis wou ingaan.

“My kinders se veiligheid was vir my die belangrikste. Ek het net besluit as hy my wil aftrek, moet hy saamjaag tot by my huis, maar ek moes net by my huis uitkom!” vertel mnr. Eddie Blom van die gebeure vanoggend in Dwykastraat.

Sy twee kinders, Rowan (11) en sesjarige dogtertjie, Lauren, was saam met die huishulp, Sophie Mokoena, tuis. Die seuntjie het iets buite gehoor en die gordyn weggeskuif.

Hy het vasgekyk in ’n groot man met ’n koevoet in sy hande. Rowan onthou hoe die man vir hom deur die venster geskree het: “Ag voetsek!”
Die seuntjie het dadelik omgespring en die paniekknoppie gedruk en vir die huishulp geskree: “daar is ’n man met ’n yster by die venster!”

Mnr. Blom sê Mid Alarms het hom gekontak en gesê die panieksein het by hulle afgegaan en hy het dadelik vir Sophie gebel.
Sy het hom meegedeel dat daar mense in die erf is, wat probeer om by die huis in te kom.

Mnr. Blom het na sy kar gehardloop en na sy huis gejaag. Sy vrou, Catherine, het self ook na hul huis gejaag.

Lees ook: Rowers slaan twee keer toe

Met hul aankoms, was daar reeds reaksielede van Mid Alarms. Die booswigte was gelukkig reeds weg. Sy seuntjie het hom vertel dat dit ’n wit Jetta was wat voor die hek gestaan het.

“Hulle het vir my gesê dit is beslis die werk van die koevoetbende.”

Die booswigte het toegang tot die erf gekry, deur die hek van die spoor af te lig.

Terwyl reaksielede die erf gefynkam het om te kyk of die boewe nog daar is, het hulle opgemerk dat die bure se hek ook van die spoor afgetel is.
By nadere ondersoek, het hulle gesien die huis se deur staan oop en het mnr. Blom sy buurvrou, me. Lily Tosen, gekontak.

Me. Tosen sê die inbrekers het eers by hulle huis ingebreek en televisies en skootrekenaars ter waarde van ten minste R20 000 gesteel het.

“Hulle prop nie eers die TV’s uit nie. Hulle ruk net alles uit.” Die TV wat op ’n rak vasgeboud is, is met rak en al uit die muur uit geruk.

• Mnr. Piet Steyn (van die Aerorand buurtwag en radiogroep) het van die gebeure verneem en soontoe gejaag.
Hy sê dat een van die inwoners laer af in die straat gesien het hoe ’n wit Jetta vanaf die toneel wegjaag.

• Mid-Alarms was nog op die toneel in Dwykastraat besig, toe hulle verneem dat daar ook ingebreek is by ’n huis in Van Elderstraat Gholfsig).
’n Tuinier het ’n alarm hoor afgaan by ’n meenthuiskompleks in Van Elderstraat.

Hy het ondersoek ingestel en gesien dat een van die meenthuise se deure oopgebreek is.

Sekondes later het die rowers uit die meenthuis uitgehardloop gekom en in ’n wit Jetta gespring. Hy het gesien dat een van die rowers ’n handwapen, wat, volgens sy beskrywing, moontlik ’n 9mm pistool was, in sy hand het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button