News

Pasop vir vrou met slimpraatjies

’n Rivierpark inwoner wil ander inwoners waarsku teen ’n vrou wat met ‘mooipraatjies’ hom oorreed het om sy kruideniersgeld te spandeer om haar te onthaal en vir sy kleinseun om sy werk te bedank.

Thinus Brits sê dat die vrou sy kleinseun genader het op die hoek van John Magagulastraat en Wandererslaan. Sy wou hospitaal toe gaan maar die kleinseun het hom oor haar ontferm en haar huistoe genooi, omdat daar ’n staking daar naby was.

Die vrou het vertel dat sy van “Ellisras” af is en na Middelburg gereis het, vir ’n onderhoud met ’n potensiële plaasbestuurder, vir haar wildsplaas. Sy het beweer dat die persoon dronk was en sy daar en dan besluit het om te loop.

Haar luukse BMW was glo by Wonderpark Spar geparkeer, waar dit moeilikheid gegee het en ’n platbaktrok dit kom oplaai het.
Mnr. Brits en sy kleinseun het haar in hul huis verwelkom, waar sy sou wag tot daar vir haar ’n nuwe motor gestuur word.

“Sy het vreeslik gepraat. Sy het my kleinseun oortuig om sy werk te bedank, omdat hy vir haar moes kom werk by haar vervoerbesigheid. Sy het my ook oortuig om my huis op te gee sodat ek vir haar as opsigter by die wildsplaas kon werk.
Toe dit laat word het ek vir my kleinseun gesê om my kaart te vat en die geld wat ons vir kruideniersware gespaar het te gebruik om vir haar iets te koop om te eet, want daar was nie kos in die huis nie,” vertel mnr. Brits.

Hy sê dat die vrou twee aande by hulle oornag het. Sy het vertel dat sy ’n sielkundige is en sukkel om by die vervoerbesigheid en wildsplaas uit te kom, sedert haar man se afsterwe. Sy het gesê dat BMW vir haar ’n nuwe motor stuur en dat sy sal moet bank toe om die assuransie uit te sorteer.

Mnr. Brits sê dat die vrou onderneem het om vir hom R4 100 in te betaal om hom te help om sy motor se uitlaatstel te vervang, asook omdat sy daar kon oornag. Sy het aan mnr. Brits gesê dat sy gereël het dat vleis by hom afgelewer word van Ellisras af.

Terwyl mnr. Brits by die huis gewag het vir die vleis is sy kleinseun en die vrou, wat haarself as Susan van Deventer voorgestel het, bank toe. Nadat die seun ure in die motor voor die bank gewag het, is hy in om na haar te soek maar sy was skoonveld.

“Ek weet nie wat haar motief was nie. Buiten vir die slaapplek en dat ek my geld gebruik het omdat ek geval het vir haar mooipraatjies, het sy nie veel by my gevat nie. Ek is bang sy gebruik my bankbesonderhede vir iets skelms of steel my pensioengeld. Gelukkig het ek nog nie my huur opgegee nie,” sê mnr. Brits.

Hy sê dat sy kleinseun na sy ouers in Pretoria toe is, omdat hy nou sonder werk sit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button