Prokureur sê wildboer was net oorhaastig met horings
Mnr. Danie Schutte, regsverteenwoordiger van Ubhetyan-o-Afrika eienaar, mnr. Deon Cornelius, wat gevonnis is vir die verkoop van renosterhorings sonder die nodige permit, sê sy kliënt is nie die skurk wat hy uitgemaak word na ’n pleitooreenkoms nie.
Mnr. Cornelius het skuldig gepleit en is ’n boete van R10 000, of ses maande gevangenisstraf opgelê.
Hy moet ook R50 000 aan die Mpumalanga Parkeraad as vergoedende boete oorbetaal.
Mnr. Schutte sê dat mnr. Cornelius deeglik, sonder enige voorbehoud, met die polisie ondersoek saamgewerk het, wat versagtende omstandighede was.
“Mnr. Cornelius is beslis nie ’n smokkelaar wat munt slaan uit die onwettige verkoop van renosterhorings nie, hy is ’n wildboer wat oor die afgelope tien jaar meer as R1 miljoen uit sy eie sak aan wildbewaring spandeer het,” sê mnr. Schutte.
Dit is wettig om renosterhorings te besit en daarmee handel te dryf met die nodige permitte, waarvoor mnr. Cornelius wel voor die verkoop van die vyf renosterhorings, aansoek gedoen het.
Die permit was egter nie in sy besit tydens die transaksie nie.
Mnr. Cornelius sou ses renosterhorings teen R675 000 aan ’n Bloemfonteinse koper verhandel.
Lees ook: Wildlife sanctuary owner sentenced for illegal trade in rhino horn
Die koper, Joseph Albertus du Plessis en sy vrou Susanna Johanna du Plessis, was egter net die middelman vir die Sjinese sindikaatsmokkelaars Yansen Feng and Lui Li Hong.
Feng en Hong is gearresteer saam met die Du Plessis egpaar.
“Mnr. Cornelius was uit die staanspoor te haastig en hy erken dat hy moes gewag het vir die permit, hy het om verskoning gevra en die hof het bevind dat die saak uniek in die aard is dat mnr. Cornelius wel die horings wettiglik sou kon verkoop met die nodige permit,” sê mnr. Schutte.
Hy het die horings wettiglik besit.
Spesialis aanklaer, me. Ansie Venter, het die pleitooreenkoms ondersteun.
Feng is tot R60 000 of ses maande gevangenisstraf gevonnis. Hy is ’n bykomende 18 maande tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is. Hy moes ook R1 miljoen aan ’n renosterbewaringsprojek oorbetaal.
Hong is tot R60 000 of twee jaar gevangenisstraf gevonnis. Sy is reeds gedeporteer na Sjina.
Die Du Plessis egpaar is elk tot R20 000 of twee jaar gevangenisstraf gevonnis.
