Hart eis geliefde marathonatleet
“In plaas van ’n troue, is ons nou besig om ’n begrafnis te reël.” So het die Suid-Afrikaanse meesters atleet, Emmarie Theunissen, vangoggend gesê, nadat haar verloofde van die laaste twee jaar, Piet Schoeman (57), Vrydag aan ’n hartaanval beswyk het.

Schoeman was een van Middelburg Marathonklub se mees lojaalste lede en ’n voormalige voorsitter van die klub.
Hy was by Theunissen op Bronkhorstspruit vir die langnaweek en het by haar gaan sit en gesels nadat hy Vrydagoggend gaan draf het, toe hy ’n massiewe hartaanval gehad het.
Alhoewel hy fiks was en gereeld gedraf het, het Schoeman met cholesterol gesukkel waarvoor hy medikasie gebruik het. Hy het Woensdag bloed geskenk en daar is vasgestel dat sy cholesterolvlakke gevaarlik hoog is. Weens die langnaweek kon hy nie bereik word om dit vir hom te sê nie.
“Ons het klaar die klere gaan uitsoek en sou ds Colin (Hertzog) gesien het om ’n datum vas te stel vir ons troue, dit sou voor die einde van die jaar gewees het, nou reël ek ’n begrafnis,” het Theunissen hartseer gesê.
“Piet het my op die hande gedra, selfs die eienaar van die winkel in Brooklyn waar ons die trouklere gaan uitsoek het, het gesê dat hy nog nie gesien het dat twee mense soveel liefde vir mekaar het nie.”
Middelburg Marathonklub hou Dinsdagaand net voor die klub se weeklikse tydtoets ’n gewyde oomblik waar ’n gebed gedoen sal word en daarna gaan klublede balonne loslaat. Die Walk&Run for Life klub gaan ook die geleentheid ondersteun.
Voorlopig word ’n begrafnisdiens vir 6 Oktober beplan en ’n huldigingsdiens vir vroeg Donderdagoggend in die Hervormde Moedergemeente. Weens die Covid-19 gaan besoekers beperk word.
•Die huidige voorsitter van Middelburg Marathonklub, Pieter Swanepoel, het gesê dat Schoeman “elke tydtoets daar was en ’n pligsgetroue klublid was”.
•Theunissen het Suid-Afrika in Perth, Australië, by die meesters kampioenskappe verteenwoordig. Sy was op 8 Mei 2020 in ’n motorongeluk in Bronkhorstspruit betrokke, waar sy verskeie ernstige beserings opgedoen het.
