Tien honde laasnag vergiftig!
Agt honde het gevrek en twee word nog by die veearts behandel nadat boosdoeners by talle huis in Dennesig gif vir die honde gevoer het.
Ses van die honde is in Emily Hobhousestraat vergiftig, drie in Bullerstraat en een in Colleylaan. Twee van die honde het oorleef en word nog by die veearts behandel.
“Tyson was my oorlede dogter, Bernalee, se hond!” het me. Susan van Tonder (wat in Emily Hobhousestraat bly) vanoggend huilend gesê. Haar dogter is in 2019 aan ’n hartaanval oorlede.
Buiten Tyson is ook hul ander twee Boston terriërs, Bella en J-Lo, vergiftig.
Mnr. David Pretorius, wat ook in Emily Hobhousestraat bly, is woedend, want aldrie sy honde, twee dwergkees (Toypom) honde en sy Duitse Herdershond, is afgemaai.
“Ons het die naweek vanaf Richardsbaai na Middelburg verhuis en nou gebeur dit! So my indruk van die dorp is maar baie sleg,” het hy kwaad uitgevaar.
Hy meld dat hulle omstreeks 01:30 vanoggend gewek is met die geblaf van die honde. Sy vrou het by die venster uitgeloer en iemand by die woonstel sien staan.
Sy het op hom geskree en hy het weggehardloop.
’n Halfuur later het die honde weer begin blaf, maar hulle kon niks sien nie. Sowat ’n uur later het alles stil geword en het hulle aangeneem alles is nou rustig buite. Hy vermoed dit is wanneer die booswigte die honde vergiftig het.
• Die afgelope paar jaar is daar letterlik honderde honde in ons dorp vergiftig. By die meeste gevalle was die boewe agter motorfietse in die omgewing aan, want kort na die vergiftigings is daar verskeie kere motorfietse gesteel.