Die forensiese masjien wat moordenaars aan die pen laat ry het
’n Dodelike span wat moordenaars se turf laat sit het! So onthou polisiemanne die kriminele rekordsentrum en die moord-en-roofeenheid.
Polisielede én joernaliste het gewéét, jy meng nie in voordat kolonel Anton Crafford en sy span nie die toneel gefynkam het vir vingerafdrukke of DNS nie.
Met plakboeke vol ou koerantberigte op die tafel voor hom, onthou kol. Crafford ’n paar sake wat vir altyd in sy geheue vasgebrand is.
• Die koerantopskrif skreeu dit uit: “Murdered in cold blood”, toe ’n polisielid, sers. Marcus Seshigo Chidi, in 1996 vermoor is.
Sy lyk is agter in sy uitgebrande staatsvoertuig se bagasiebak gevind in Hlalanikahle.
Hy onthou dat die ondersoekbeampte Solly Nkosi was.
“As gevolg van inligting wat die buurvrou verskaf het, het ons die oorledene se huis besoek en ’n chemiese vloeistof, Benzidine, gespuit, wat reageer op bloed. Ons kon duidelik sien dat bloedkolle verskyn.” Alhoewel alles skoongemaak is, reageer Benzidine steeds op plekke waar bloed gemors is.
“Ons kon bewys dat sers Chidi in sy huis vermoor is! Sy vrou en twee ander was betrokke.”

• Aan die hand van die koerantartikel, “3 Kry 157 jaar oor barbaarse moord” vertel hy van die wrede moord op mnr. Johannes George Prinsloo (’n boer van eMalahleni).
Hy is vir ses ure gemartel. Sy moordenaars het onder andere sy pinkienael uitgetrek, warm kole op hom gegooi, sy tande vergruis en sy nek en skedel gebreek. Hy is vasgebind met ’n sweep en ’n uitgerukte telefoonkabel.
Kol. Crafford onthou dat die booswigte ’n telefoonboek se bopunt aan die brand gesteek het, om as fakkel te gebruik.
“Daar het ons Ninhidrien gebruik en het ’n palmafdruk op ’n uitgeskeurde bladsy van die telefoonboek gekry.”
Daar was geen verdagtes nie, totdat kapt. Barnard van die Ogies speurtak hom gebel het. Hulle het Moses Malaza gearresteer vir diefstal. Sy afdrukke is vergelyk met dit wat die PKRS gekry het en hy is positief verbind met die toneel.
“Majoor Piet Bredenkamp was ongelooflik bly toe ons die inligting vir hulle deurgee!”
• Tydens ’n transitoroof tussen Belfast en Machadodorp op die N4 in 2000 was daar ’n oor en weer skietery tussen die rowers en die polisie. Een verdagte is doodgeskiet en die ander een is dood in ’n hospitaal in die omgewing.
“Ons het 250 patroondoppies op die toneel versamel.”
Die bakkie van die rowers is op die toneel ondersoek vir vingerafdrukke.
Kort daarna kry lede van moord-en-roof ’n man wat ryloop in die rigting van Johannesburg. Hulle laai hom op en hy word volgens sy vingerafdrukke positief verbind met die bakkie.
“Toe die rowers vlug het hulle ook ’n BMW en AK47 op die toneel agtergelaat.”

• Die Robbertze moord op die plaas Klipplaatdrif in 1998 was vir hom een van die ergstes.
Op pad na die toneel, het hy so byna sy voertuig omgegooi.
Op die Elandslaagte pad, het hulle al die egpaar se Mercedes gevind waar die moordenaars ’n ongeluk gemaak het. Hulle het verder te voet gevlug.
Die egpaar, Jeanette Adriana en Johannes Hendrik Francois, is in die eetkamer gekry. Beide is in die kop en bors geskiet. In die woonstel het hulle mnr. William Martin Brits gekry, wat op kort afstand met ’n haelgeweer doodgeskiet is.
“Die een aspek wat nie gepas het by die moordtoneel nie, was die Bybels wat bo op die oorledenes neergesit is. Die hele eenheid was ontsteld met die grusame toneel.”
Hulle was 11 lede op die toneel en het tot laat die aand gewerk om bewysstukke te kry.
Die ondersoekbeampte was kapt. Botsoso Moukangwe en sy span. Hy het hulle gevra om die toneel naby die Mercedes te fynkam, want daar was ’n .22 pistool wat vermis word.
Kol. Crafford het die honde-eenheid laat kom en binne minute is die pistool, sowat 30m vanaf die voertuig gekry.
“Agterna is twee mans gearresteer. Toevallig was die een verdagte reeds deur ons eenheid deur middel van vingerafdrukke verbind met 10 huisbrake in Middelburg.”
Beide verdagtes is verbind met vingerafdrukke op die moordtoneel, asook deur middel van DNS op sigaretstompies in die huis. Die getuienis teen hulle was so sterk, tydens die hooggeregshofsaak het hulle skuldig gepleit.”
Eric Xolabi Makhaluza (23 tydens die moord) en James Zimu (22) is lewenslange vonnisse opgelê.
Zimu het in die hof getuig dat Makhaluza mnr. Brits onder die bed doodgeskiet het, “omdat hy nie van witmense hou nie.”
• Dan is daar ook die adjunkhoof van ’n skool op Hendrina wat in sy bed vermoor is. Verskeie items is gesteel en hulle het vingerafdrukke op ’n stel pierings gekry.
“Ons het na die ondersoek klaar is, na Ermelo se PKRS gery, want Hendrina val eintlik in hulle wyk. Binne ’n uur het kapt. Lourens ’n verdagte, Sipho James Mokoena, volgens die vingerafdrukke geïdentifiseer.”
Die inligting is deurgegee vir maj. Piet Bredenkamp van moord-en-roof. Op hierdie saak onthou hy dat Pepsi (Obed) Sibiya deel was van die span wat dieselfde aand die verdagte vasgetrek het.
“Ons het soos ’n geoliede masjien saam met moord-en-roof gewerk. Ons het net agter die skerms gehelp en seker gemaak dat elke bewysstuk bymekaar gemaak word, sodat die manne van moord-en-roof altyd verdoemende getuienis teen die verdagtes kon voorlê in die hof.”
As daar een ding is, wat hy onthou van die lede van moord-en-roof, “was dit hul jag-instink, hul passie om die skuldiges vas te trek. ’n Kundigheid en daardie saamwerk in ’n span. Ons het oor en weer geboer by mekaar om sake op te los.”
Hy is opgewonde dat dié eenheid weer kan herleef en hoop dat hulle weer kundige spanne met ’n passie om moordenaars en rowers aan die pen te laat ry, in die nuwe eenheid sal kry.
