News

Jong man (28) op plaas doodgeskiet

’n Jong man is Maandagoggend net na middernag in sy bed doodgeskiet.

Volgens inligting van verskeie bronne het Raymond Papabavlou (28) in die bed gelê terwyl sy vrou op die bank voor die televisie gelê het. Sy het aan die slaap geraak en wakker geskrik van ’n geweerskoot.

Die paartjie woon in die Rooikraal omgewing (tussen Stoffberg en Groblersdal) op die plaas Frischgewaagd.

Die vrou het ’n vuurwapen by haar gehad en waarskuwingskote gevuur. Volgens die Groblersdal polisiewoordvoerder, adjudant offisier Stanley Magaela, was die slaapkamerdeur ’n skrefie oop en het die vrou sewe waarskuwingskote deur die deur gevuur.

Mnr. Papabavlou is op die toneel dood verklaar. Hy is vyf keer raak geskiet, een keer in die kop, drie keer in die sy en een keer in die rug. Daar was nie tekens van ’n gestoeiery nie en dit blyk asof mnr. Papabavlou in sy slaap vermoor is.

A.o. Magaela het bevestig dat die polisie ’n saak van moord ondersoek. Dit blyk nie asof daar iets in die huis gesteel is nie. Die enigste teken dat iets skort was ’n klein venstertjie in die kombuis wat oopgestaan het.

• ’n Ander boer in die omgewing, wat graag anoniem wil bly, het gesê dat mnr. Papabavlou se vrou die vorige nag gebel het oor ’n verdagte Mercedes wat langs die teerpad waar die Rooikraal afdraai is, gestaan het. Die voertuig se nommerplaat is getoets en daar is vasgestel dat dit van ’n adres in Gauteng afkomstig is.

Toe boere gereageer het om die voertuig te gaan konfronteer, was dit reeds weg.

• Henning Joubert is in 2016 in dieselfde omgewing vermoor nadat hy met sy aankoms by sy skoonouers se huis, oorval en herhaaldelik met ’n mes gesteek is. Sy vrou Marlene kon skote vuur en het een van die aanvallers in die rug gewond.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button