Voorheen skote en moord op Rooikraal
Die naaste buurman van die huis waarin ’n jong man vanoggend in Rooikraal vermoor is, sê dat hy die skote gehoor het, maar nie besef het dat daar sopas ’n moord gepleeg is nie.
Jan Fourie sê dat hy en Raymond Papabavlou sowat 500 meter uitmekaar bly en dikwels gesels het.
“Ek het gereeld geweerskote gehoor by Raymond-hulle se huis, dag en nag. Ek vermoed dat hulle teiken geskiet het. Dit was daarom nie vir my snaaks nie,” sê hy.
Mnr. Fourie het eers vanoggend na 07:00 van die plaasaanval en moord gehoor, omdat hy nie deel is van die plaaslike veiligheidsgroep nie.
Hy sê dat daar in 2017 ’n voorval by sy huis was waar iemand sy wildsdraad geknip en op sy huis geskiet het. Sy seun, wat in dieselfde huis gebly het waar mnr. Papabavlou geskiet is, het daarna uit vrees vir sy veiligheid Middelburg toe getrek.
Lees ook: Jong man (28) op plaas doodgeskiet
Mnr. Fourie is ook verwant aan Joubert Henning, wat in 2016 in Rooikraal vermoor is. Mnr. Fourie se susterskind Marlene en haar man Joubert is oorval toe hulle by hul ouers se huis aangekom het.
Mnr. Henning is herhaaldelik met ’n mes gesteek, mev. Joubert kon haarself met ’n vuurwapen verdedig en het een van die aanvallers gewond. Hy is egter nooit vervolg nie omdat hy uit aanhouding in die hospitaal ontsnap het.
Die Groblersdal Polisie het intussen ’n mediaverklaring uitgereik, waarin hulle sê dat hulle ’n saak van moord ondersoek. Mnr. Papabavlou se liggaam is volgens die verklaring in een van die kamers aangetref. Sy vrou het ook skote afgevuur.
Volgens inligting van ’n bron was mnr. Papabavlou in die kamer en sy vrou op ’n bank voor die televisie aan die slaap toe sy wakker skrik van ’n geweerskoot.
• Mnr Papabavlou was ’n oudleerling van Hoërskool Kanonkop.
