News

Gejaag met vuurwapen, aangerand, gevloek…in die naam van joernalistiek

Wie kan beskou word as die grootste Afrikaanse joernalis tot op hede? vra professor Johannes Froneman half moedswillig.

Byna soos om te vra of Naas Botha die beste losskakel was. Natuurlik gaan daar sterk opinies wees: “Naas kon nie tackle nie!” Sê wie?

Die grootste joernalis ooit?
Jan Viljoen!

Ja, Jan Viljoen?

Jan het vir die dorpskoerant gewerk, hy het die eretitel gehad van “redakteur”.
Geen eredoktorsgraad was hom ooit beskore nie.

In sy “effe deurmekaar” kantoor was daar wel bokse en bokse sertifikate, medaljes en trofeë. Nie uitgestal teen kantoormure nie, weggebêre.

Toekennings van die landbou-unie, die skoukomitee, die boksklub, stoeiklub, kerke, te veel om op te noem. Selfs een van die aartappelfees se organiseerders as “Moer van die jaar”.

Daar was selfs erekleure van die provinsie se skeidsregtersvereniging, ’n swart baadjie wat hy trots gedra het.
Eerbewyse om dankie te sê vir Jan se “onbaatsugtige” rol wat hy in die gemeenskap speel.

Daardie “onbaatsugtige” rol was somtyds nie deur eie keuse nie. By ’n vergadering van die Aksie Morele Standaarde, het die groepie sedebewakers se voorsitter vir Jan gevra om die twee “dames” te bedank, wat vir die orreluitvoering verantwoordelik was. ’n Oorblufte Jan is later tydens die jaarvergadering op AMS se komitee verkies.

Lees ook: Daar was ink in my bloed

Daarna het vele komitees gevolg: Sekretaris van die rugbyklub, die beheerliggaam van die skool, kerkraad, vele sportkomitees…
Spreker by prysuitdelings…

Saterdagmiddae langs die sportvelde, al patrollerend, Saterdagaand by een of ander spoggerige geleentheid, dikwels as eregas.

Tussen alles deur het Jan deur spertye geworstel en vir die dorp ’n koerant gegee waarop hulle verlief was. Hulle het gepraat van “ons koerant”.
Hoe later hoe dieper, het die band tussen koerantman en dorp geword.

Hy moes kinders help begrawe, het ’n begrafnisdiens gelei op ’n Saterdagoggend vir ’n bejaarde inwoner en is gebel wanneer daar nood was.
Daar was ’n man wat gevra het “wanneer ek sterf moet jy my eendag begrawe”.

Toe ’n hawelose op die dorp sterf het die koerant hom begrawe.

Toe ’n sesjarige seuntjie by sy kantoor opdaag met vergrote testikel en ’n boodskap van sy ma: “Hulle het gesê jy kan help”, is die operasie gereël. Tien jaar later het die tiener kom dankie sê.

Vroegoggend het ’n oproep gekom: “My man wil sy eie lewe neem.” Later: “Hy gaan my en die kinders skiet.” Jan het gehoop om die held te wees. Hy het die deur bang genader waar die man met vuurwapen in die hand gesit het…Jan was alleen. Later het ’n skoot geklap. Jan moes die huldeblyk by die begrafnis doen. Hy het later ’n houtkruis op die man se graf gaan inkap.

Dan was daar die vrou wat gebel het oor haar pa wat die oggend uit die huis verdwyn het, hy was ’n bekende in regskringe. Daar is gesoek en gesoek, saam met ’n polisieman. In die mielielande het hy gelê met ’n 9mm langs hom, skape het al blêrend verby gedraf.

Lees ook: There was ink in my arteries

Die jong sakeman wat ’n WhatsApp boodskap gestuur het: “Moet niks in die koerant sit nie en sorg dat ek veras word”. Die wyn en oordosis pille het hom in ’n diep koma gelaat. Sy meenthuis se diefwering is afgesaag, sy hart het vyf keer gaan staan, hy het herstel en is vandag die eienaar van ’n suksesvolle praktyk.

Die koerant word dikwels eerste gebel en daarna die polisie en die res. Soos verlede jaar toe ’n jong inwoner homself opgehang het. Die man wat hom gekry het, het eerste na die koerant gehardloop met ’n: “Julle moet kom kyk!”

Die vrou met haar seuntjie vasgeklem in haar arms, sy wou nie los nie. Jan ken die mense op die dorp beter as sy eie familie. Hy kon vinnig ’n pastoor en die lyksbesorger bel.

Die oproep net nou die dag: “Daar is’n kind besig om te verdrink, die mense by die huis kan nie swem, kan jy help?”

Daar is ook baie om oor te lag. Soos die “lyk” waaroor ’n leser gebel het wat in die rivier af dryf. Die “lyk” was ’n teddiebeer so groot soos ’n man, wat Jan uit die rivier “gered” het.

Die oproep oor die vrou wie se “water gebreek het”. Die jong paramedikus wat opgewonde was om sy eerste “bevalling” te hanteer en toe is dit ’n waterpyp wat gebars het.

Jan is ’n paar keer agter karre aan wat oor rooi verkeersligte gejaag het, omdat hy gedink het dit is ’n storie… dan stop die kar by die…kraamsaal.
Sy kantoor het ’n hawe geword waar bekendes, boemelaars en die burgemeester kom afpak.

Daardie titel van “redakteur” kom ook met ’n prys, wat veel swaarder is as die ketting om die burgemeester se nek.

Hy is al uitgekryt as volksverraaier, regse, sy vrou is al weggejaag by ’n huis “want jou man werk by die koerant”, sy ma is in middernagtelike ure gevloek, sy kinders verneder, is byna tydens onluste aan die brand gesteek, twee keer met vuurwapens gejaag, aangerand, hofsake beveg en het doodsdreigemente gekry.

Tydens ’n derby tussen die dorp se spog rugbyskole in die gesig gespoeg deur ’n ondersteuner.

Geen eerbewys vir dapperheid, geen Nat Nakasa toekenning nie, alles deel van ’n gemeenskapsjoernalis se lewe.

Miskien eendag, sal hy die groot eerbewys kry wat gegaan het aan die redakteur van die Klerksdorp Rekord, Doret Jansen, na haar afsterwe. Op die Klerksdorp Rekord se voorblad het daar in groot swart letters gestaan: “Ons redakteur is dood..!” Nie, “die” redakteur nie, “ons” redakteur.

(Jan Viljoen is ’n fiktiewe naam, die res van die feite…en meer… is die waarheid en speel elke dag iewers in die land by ’n gemeenskapskoerant af. Die berig is die eerste keer op die Nagkantoor Facebookblad gepubliseer).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button