Dam vol glasstukke
Waarom kon polisieduikers nie die liggaam van Henry Mikwanda in ’n japtrap kry nie?
Kapt. Johan Grobler (Duikpunt Bevelvoerder vir die Nkangalastreek) sê die persoon wat die uitwysing gedoen het waar hy verdrink het, het hul taak bemoeilik. “Hy het elke keer ’n ander plek gewys. Ons duikers kry gewoonlik dadelik die oorledene as die uitwysing reg is.”
Min mense weet dat duikers ook nie die hele dag, elke dag kan duik nie.
Die wateroppervlakte temperatuur kort na die verdrinking was tussen 14 en 17 grade elke dag. Temperature van tussen 7-9 grade is gemeet van 20m af dieper.
Hy het verduidelik dat die water kolomme maak.
“Jy het jou bowater wat warm en koud word soos die wind waai. Dan die boonste kolom onder dit, wat konstant is. As jy deur dit gaan word dit vrek koud. Dit is soos om koue roomys te eet. Jy haal asem en die volgende oomblik kry jy breinvries, dis hoe koud die water was.”
Die duikers het beide ‘Pendulum’ en ‘Jackstay” duikwerk met tou ingespan om mnr. Mikwanda se lyk te vind.
“Met hierdie maniere maak jy seker jy dek ’n wye area en dit word verantwoordelike en veilige duik genoem, want jou duiker se veiligheid is net so belangrik. Mense besef nie hoe gevaarlike werk ons ouens doen nie. Buiten diep duik, kan enigiets fout gaan met toerusting soos ’n pyp wat kan kan bars of hulle kan vassit aan drade of nette.”
Tydens die soektog het hulle een dag 27m diep geduik en daar was vanaf 10m géén sig nie. “Die duiker moet fisies met sy een hand die tou vashou en met die ander hand rondvoel in die donker op die bodem. Hulle het ook ’n paar keer in rotse vasgeloop.”
As kommersiële duikers mag hulle nie dieper as 30m werk nie en as jy kyk na die hoogte bo seespieël wat die dam is, 1 520, het hulle eintlik 32m geduik!
Weens die gevaar van stikstof wat in hul bloed opbou, kon die duikers ook net 20 minute op ’n slag duik, waarna hulle weer vir sewe ure moes rus.
Hy sê na elke duik moet duikers die stikstof kans gee om uit hulle sisteem te kom.
“Jou liggaam is soos ’n botteltjie Coke. Vol gasse. Hy maak borreltjies. As jy Coke oopmaak, gaan die borreltjies boontoe. Dit is presies wat met jou gebeur as jy duik. Die borreltjies gaan in jou lyf, jou bene en jou bloed in. As jy nie rus nie, kan ’n borreltjie los kom en iets soos ’n beroerte veroorsaak, want dit gaan na jou brein toe.”
Kapt. Grobler het gesê dat hulle ’n ernstige probleem met glasstukke in die dam gehad het. Reeds waar hulle die bote ingesit het naby die kranse, het hulle drie sakke vol glasstukke opgetel.
Een van die honde van die honde-eenheid se pote is gesny.
Vir die duikers was dit net so moeilik, want oral waar hulle op die bodem gevoel het, was daar nie net rotse nie, maar ook glasstukke, vislyn en kunsaas.
• Kapt. Grobler sê die meeste Malawiërs kan swem, want hulle is nethengelaars, gewoonlik by Lake Malawi, ’n welbekende meer.
“Hy kon hom ook misgis het met die diepte en koue van die water, die meeste mense verdrink tussen twee en 10 meter diepte water. Baie mense se harte gaan staan van die paniek.”
• Buiten die 15 verdrinkings die afgelope drie weke, was hulle Dinsdagoggend alweer op pad na Schoemansdal vir ’n verdrinking.
Kapt. Grobler sê dis nie ongewoon nie. “Ons het ongeveer 150 verdrinkings ’n jaar waar ons duikers die lyke moet gaan uithaal.”
• Die watervleuel hanteer nie net verdrinkings nie, maar moet ook by alle sportsoorte, soos amptelike hengel- en seiljagkompetisies diens doen.
• Die duikers doen ook gereeld opleiding om seker te maak hulle is “duikfiks”.
