Nie reddingsbaadjies op boot
Die boot vanwaar Henry Mikwanda na sy dood gespring het in die Middelburgdam, het nie reddingsbaadjies op gehad nie.
Mnr. Mikwanda, ’n Malawiër, het die afgelope jaar vir mnr. Perrin O’Neill in Kanonkop gewerk en is saam met hom en ’n vriend (wat anoniem wil bly) op 12 September na die dam. Sy lyk is Saterdag deur hengelaars gevind, nadat dit vanself opgekom en op die kant van die dam uitgespoel het.
Mnr. O’Neill het hierdie week erken dat hulle alkohol, ’n halwe bottel vodka en Coke, asook braaigoed, saamgevat het.
“Ons sou nie lank daar wees nie. Ons sou net die boot toets om te kyk of hy nie lek nie en daarna uitgaan om op die kant te braai,” het mnr. O’Neill gesê.
Hyself het kaal bolyf gery en hy en sy vriend het op ’n stadium in die dam gespring om af te koel.
“Ja, daar was nie reddingsbaadjies op die boot nie.”
Hy onthou dat sy vriend naby die kransgedeelte in die water gespring het. Kort daarna het Henry ook agter hom in die water gespring.
Mnr. O’Neill het die skok en paniek op sy gesig gesien en agterna gespring om hom te help. Mnr. Mikwanda het hom egter in sy paniek afgetrek en die boot het boonop weggedryf.
Op die toneel en later deur die polisie, is gevra of hy ’n skipperslisensie het.
“Ek het vir hulle gesê dat ek 17 jaar gelede, toe ons in Knysna was, gegaan het vir my skippers. Ek het egter nie dokumente om dit te bewys nie en het ook nie geweet dat dit hernieu moet word nie.”
• Mnr. Mikwanda se familie wil graag sy lyk na Malawië neem om hom daar te begrawe. Hulle wou hê mnr. O’Neill moet die kostes dra, maar hy sê hy is weens die feit dat hy nie gedurende die grendelstaat kon werk nie, nie finansieel daartoe in staat nie.
• By navraag aan die mediakantoor van die polisie, is gesê dat daar geen gemene spel vermoed word nie, maar dat daar wel ’n geregtelike doodsondersoek sal volg om te bepaal of iemand vervolg sal gaan word.
• Kapt. Johan Grobler (Duikpunt bevelvoerder, Nkangala Streek) het gesê dat hy reeds ’n verklaring rakende die voorval aan die ondersoekbeampte in mnr. Mikwanda se verdrinkingsaak oorhandig het.
Hy het dit duidelik gestel dat alle persone wat bote bestuur die verantwoordelikheid daarvoor moet dra dat die mense op sy boot reddingsbaadjies moet dra as die boot beweeg. Vir kinders onder 12 jaar is dit verpligtend om ten alle tye ’n reddingsbaadjie te dra as hulle op die boot is.
Die bootbestuurder moet in besit wees van ’n buoyancy sertifikaat (veiligheidsertifikaat) en daar moet ’n brandblusser en spane (na gelang van die grootte van die boot) op wees.
Kapt. Grobler het gemeld dat mnr. O’Neill beboet kan word as hulle nie bewyse van ’n skipperslisensie kry nie.