Hengelaars vlug voor kwaai seekoeibul
Jy vat nie aan ’n hengelaar se visstok nie, maar as dit ’n kwaai seekoeibul is, dan los jy jou stokke net so en hardloop!
Conraad van Wyk (van Laersdrif) en ’n paar vriende gaan gereeld hengel by die De Hoopdam, naby Steelpoort.
“Ons weet daar is ’n seekoei en haar kalfie, maar sy is rustig en ons pla haar nie en sy steur haar ook nie aan ons nie. Die seekoeibul is ’n bietjie kwaaier en ons hou hom maar altyd in die oog.”
Die seekoeibul het ’n entjie weg geswem en die hengelaars se een oog was op die hengelstok en die ander op die kwaai ou bul.
“Ons het gesien hy gaan onder die water in en was nie bekommerd nie. Die volgende oomblik het hy vyf meter voor ons opgekom en was op spoed! Ons het alles net so gelos, gehardloop vir ons karre en is huistoe.”
Was hy nie bang dat diewe hul hengelgerei sal steel nie? “Nooit! Diewe is ook bang vir seekoeie.”
• Daar was op ’n stadium ’n erge probleem met hengelaars wat onwettig met nette hengel by dié dam.
“Die seekoeie hou hulle darem ook nou weg, want die seekoeie swem regdeur hul nette. Ons kry soms net die stukkies waar dit nog aan die bome hang waar dit vasgemaak is.”
