Verkragting na vergiftigings en heinings geknip word
Inwoners van Dennesig is geskok nadat ’n vrou Vrydagaand halfnaak voor ’n huis in Harry Gwala gestaan en om hulp geskree het nadat sy in die nabygeleë bosse verkrag is.
Die vrou het omstreeks 20:00 voor die huis begin skree, maar die huismense was bang om die hek oop te maak en het hulp van die Boereligioen en die “Beveg Misdaad” ingeroep.
Die inwoners het die selfde tyd gesien dat hul elektriese heining geknip is.
Izak van Zyl (van die Boereligioen) het dadelik die polisie gebel en hulle het ’n kombers om die huilende vrou se skouers gevou.
Mid Alarms reaksielid, Peter Jacobusen, het ook op die toneel gestop. Hy het vroeër die dag “merkers” voor ’n huis in Harry Gwalastraat gesien en in die area gepatrolleer, toe hy die voertuie sien en hoor van die verkragting.
Lees ook: Inbrekers vergiftig honde
Mnr. Van Zyl het op die toneel gesê dat inwoners versigtig moet wees, aangesien daar die afgelope twee weke baie misdaadelemente in die omgewing plaasgevind het.
Twee weke gelede is daar 10 honde in Dennesig vergiftig en het talle inwoners het ook gekla dat hulle gure karakters opmerk wat oor mure loer.
Daar was ook talle voorvalle waar booswigte elektriese omheinings geknip het om dit buite aksie te stel.
• Van die mense op die toneel, was omgekrap omdat hulle so lank moes wag vir die polisie.
Die polisie is omstreeks 20:00 gebel en eers omstreeks 20:50 het polisielede (net mans) na die toneel gekom.
• Die vrou is deur die polisielede teruggeneem na die area in die bos waar die verkragting plaasgevind het, waarna hulle haar na die Middelburg Hospitaal geneem het, waar toetse vir DNA van die verkragter geneem is.
• Die verkragtingslagoffer het vir www.mobserver.co.za vertel wat gebeur het. Haar berig (in Engels) kan elders op die webtuiste gesien word.
