News

PappaChef en bekendes kattemaai en kook in die kombuis!

Hy sal onthou word as die vriendelike kelner van Ginelly’s Restaurant en die voorbeeldige leerling van HTS Middelburg, maar nou gaan Pieter Malan die volgende twee maande verskeie dorpe trakteer op ’n kookprogram met ’n verskil.

Die PappaChef-toer, in samewerking met Afrikaans.com, sit ’n kinkel in konvensionele kookprogramme wanneer dié bekende sjef en kospersoonlikheid, van KykNET se Kokkedoor-faam, sy voorskoot vasmaak en sy potte en panne uithaal om saam met bekendes te klets en te kook.

Tydens elke program, gaan daar gekook, gesels en gelag word … kosstories en geheime gedeel word … kortom, luisteraars en kykers gaan ’n heel ander kant van hulle geliefde bekendes ervaar en sommer ’n nuwe resep ook leer.

Grense word verskuif in hierdie Afrikaanse multimediavertoning wanneer radio en sosiale media saamspan. Van die grootste name in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf sluit elke week by Pieter aan vir ’n kookervaring soos min.

•Daar is agt episodes wat weekliks vanaf 19 Oktober tot 7 Desember 2020 op 21 radiostasies uitgesaai word.

•Die programme is opgeneem voor ’n lewendige gehoor en word op Afrikaans.com se webtuiste gehuisves sodat mense agterna daarna kan gaan kyk.

•Verskeie gaste en plaaslike legendes neem deel.

•Daar sal elke week ook ’n insetsel wees wat fokus op toerismeaantreklikhede van die dorp wat besoek word.

•Elke episode word afgesluit met musiek deur die kunstenaar.

•Elke week se resep word op Afrikaans.com geplaas.

•Elke week word daar ook ’n toekenning gemaak aan ’n plaaslike legende – iemand wat in en vir Afrikaans ’n bydrae maak.

•Hierdie toer is ’n verlenging van die aanlyn PappaChef-programme waar bekendes soos Kurt Darren, Fatman, Nicholas Louw, Manie Jackson, Rubber DUC, Posduif, Hannes van der Walt en Pierre Nel, hul vernuftigheid agter die kospotte gewys het.

Pieter het bekendheid as sjef verwerf toe hy in 2019 aan die gewilde werklikheidsreeks, Kokkedoor op KykNET deelgeneem het en uiteindelik een van die top-drie-deelnemers was.

Deesdae is hierdie oud-Middelburger en deesdae ’n Nelspruiter, ook ’n seremoniemeester, motiveringspreker, radioaanbieder, professionele lid van die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging, ’n geakkrediteerde SA Sjef-beoordelaar en ’n ontvanger van die gesogte Eat-Out-toekenning. Behoorlik ’n mondvol!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button