Hond jaag betreders, kry gif
’n Op en wakker pit bulterriër is laasnag gif gegee toe hy betreders in ’n erf gejaag het.
Me. Chanelle van der Westhuizen sê hulle het laasnag omstreeks 01:20 die kabaal buite gehoor toe hul hond, Rocky, geblaf en iemand gejaag het.
Dit was duidelik dat die booswigte in hul erf in Blackmorestraat was en oor die muur gespring het.
Kort daarna het hulle gesien die hond begin slinger en het skuim op sy bek. Omstreeks 02:00 het hulle met hom na die veearts by Kanonkop Dierekliniek gejaag, waar hy steeds behandel word.
Me. Van der Westhuizen sê die afgelope paar weke was daar gereeld beweging in die omgewing en persone in die erf, wat Rocky blitsig laat spaander het.

Hulle vermoed hulle word dopgehou, want hul motorfiets is in die huis en in bykans al die gevalle waar honde vergiftig word, is die boewe agter motorfietse aan.
• Reg oorkant die pad, by die Steenkamps, het hulle omstreeks 05:00 gesien dat hul boerboel, Bullet, skuim om sy bek het.
Hulle het besef hy het gif ingekry en ook na die Kanonkop Dierekliniek gejaag, waar hulle ook vir sy lewe veg.
Me. Tanja Steenkamp vermoed die kwaaddoeners was agter ’n voertuig of motorfiets op die perseel aan.
• ’n Video van die Steenkamps se hond, Boela, wat ’n dief platgetrek het, het in 2015 internasionaal opslae gemaak nadat dit op www.mobserver.co.za gepubliseer is.
Lees ook: Inbreker kom sy moses tee met boerboel
Me. Steenkamp sê dat hulle Boela twee jaar gelede moes uitsit, omdat hy kanker gekry het. Daarna het hulle vir Bullet gekry.
