Vrou ry oor straatrower se voet
’n Vrou wat bang was ’n straatrower breek haar voertuig se ruite, het waarskynlik oor sy voet gery in ’n poging om weg te kom.
Die vrou (wat verkies om anoniem te bly) en haar 13-jarige dogter het omstreeks 14:00 by die rooi verkeerslig op die hoek van Wes- en Bhimy Damanestraat gestop.
“Toe ek weer sien, toe kyk ek vas teen die gesig teen my venster!” Die booswig het teen die venster geslaan en probeer omhardloop na haar passasierskant by haar dogter, wat besig was op haar selfoon.
“Ek was bang hy breek die venster by my dogter en het sommer oor die rooi lig gery. Ek het gevoel ek ry oor iets, waarskynlik sy voet, maar wou net wegkom. My dogter het gelukkig nie besef wat aangaan nie en my net gevra waarom ek die hele tyd: ‘nee! nee! nee!’ gegil het.”
Haar voertuig se deure was gelukkig gesluit.
• Me. Julie de Beer was egter nie so gelukkig nie en moes veg om haar deur toe te hou.
Sy het omstreeks 16:30 opgery in Walter Sisulu om haar huishulp af te laai by die sentrum aan die linkerkant op die hoek van Walter Sisulu- en Cowen Ntuli.
“Ek het die deure oopgemaak dat sy kan uitklim en vergeet om dit weer te sluit.”
Terwyl sy gewag het by die uitgang van die parkeerarea om weer in Walter Sisulu in te draai, het haar bestuurderskant se deur oopgevlieg.
Me. De Beer het dadelik reageer en die deur probeer terugruk,
Sy het ’n beweging links van haar gesien en opgemerk hoe ’n ander straatrower langs haar inklim en gryp na haar beursie.
“Ek het net vet gegee, waarop die een uitgevlieg het en my deur self toegeklap het. Gelukkig het die persoon wat aangery gekom het, gesien wat gebeur en dood gestop dat ek voor hom kon insny, anders het ek hom gestamp.”
• Daar is die afgelope tien jaar al oor talle voorvalle berig waar straatrowers mense se deure in die sentrale sakegebied van Middelburg oopgepluk het. In baie gevalle het hulle ook artikels van bakkies af gesteel, slagoffers met messe gedreig en selfs wapens op hulle gerig.