Almal wag vir nadoodse verslag
Sal die formele verslag na die nadoodse ondersoek op die liggaam van Raymond Papapavlou belangrike antwoorde in die ondersoek bied?
’n Betroubare bron sê dat daar wel duidelike leidrade gevind is. Die leidrade mag egter nie bekend gemaak word nie.
Papapavlou is Sondagaand, 4 Oktober, in sy bed op ’n plaas in die Rooikraal omgewing doodgeskiet.
Die polisie se amptelike verklaring lei dat hulle met hul aankoms sy vrou en gemeenskapslede by die plaashuis aangetref het. Papapavlou se liggaam is glo deurtrek met koeëlwonde gevind.
Lees ook: Beloning vir inligting na Rooikraal moord
Die Groblersdal polisiewoordvoerder, Stanley Magaela, het gesê dat Papapavlou minstens vyf koeëlwonde het.
Papapavlou se vrou het volgens inligting van persone wat op die toneel was, op die bank voor die televisie aan die slaap geraak, terwyl haar man in die kamer gelê het. Sy het ’n sarsie waarskuwingskote van die bank af gevuur toe sy deur skote wakker gemaak is.
Daar is vertroulik verneem dat Papapavlou se liggaam vir ’n tweede nadoodse ondersoek in Polokwane gestuur is.
Lees ook: Gesoute oud-speurder ondersoek Rooikraal moord
Buiten vir die polisie se ondersoek word die saak ook deur baasspeurder Sakkie Louwrens van Bosveld Ondersoeke bekyk.
Papapavlou, oudleerling van Hoërskool Kanonkop, se moord volg kort op die hakke van Bredin Horner wat in die Vrystaat vermoor is. Sy liggaam is aan ’n paal vasgebind.