News

Bye sien rooi by HTS Middelburg

Twee honde is dood en een is nog op ’n drup by ’n veearts, nadat ’n swerm beserkte bye hulle toegetakel het by woonstelle naby ’n skoolkoshuis op die HTS Middelburg skoolgronde.

Volgens inligting het die bye hul intrek in ’n pilaar gekry en het iemand gister probeer om die bye te laat trek. Dit het die swerm rooi laat sien!
Nie een van die betrokkenes wou kommentaar lewer nie. ’n Inwoner het wel bevestig dat een van hul honde dood is.

Plaaslike byeboer, Martin Nel, sê dat hy bewus is van die bye by HTS omdat byswerms elke keer hul intrek op dieselfde plek kry.

“Bye het ’n gaatjie van 10mm nodig om in te kom. As daar voorheen bye was sal swerms altyd terugkom na die plek toe omdat die reuk van die was vir jare daar bly,” sê mnr. Nel.

Hy sê dat nie net HTS nie, maar verskeie ander skole sukkel met bye. By twee ander skole, Laerskool Kanonkop en Hoërskool Kanonkop, is daar ook plekke waar bye herhaaldelik intrek.

Lees ook: Doef-doef musiek een te veel vir bye 

“Die enigste manier om dit te keer is om daardie plek baie goed te verseël sodat die bye nie kan inkom nie, anders gaan hulle elke keer terugkom.”

Hy sê dat bye tans baie aktief is. Hy word oorval deur oproepe van mense wat hulp soek met bye. Mnr. Nel het die volgende raad gegee:

Om veilig van bye ontslae te raak:

• Moenie ’n blik Doom uitpluk, terpentyn gooi of ’n vuur aansteek nie. Mnr. Nel sê grappenderwys dat bye sommer dadelik woedend raak as hulle Doom sien. Moet ook nie dink om ’n motorband aan die brand te steek om die bye uit te rook nie. Dit gaan hulle net kwaad maak.

• Bye hou nie van musiek met ’n harde bas klank nie. Mnr. Nel raai aan dat jy musiek wat baie vibreer hard aan die binnekant van die huis speel. Dit kan help vir bye wat hul intrek in ’n huis se dak gekry het om sommer vinnig self te trek, omdat hulle nie meer van die omgewing hou nie.

“Dit moet van die moderne gemors wees en nie boeremusiek nie. As jy boeremusiek speel gaan die bye langer bly.” (Hy het nie kommentaar gelewer oor ’n Jurie Els liedjie nie).

• Probeer gate en skeure goed toestop en seël.

• Byeswerms wat trek, gaan sit dikwels om te rus as die koniningby moeg raak. Dit is gewoonlik swerms wat aan takke hang of self op die grond gaan sit. Sulke swerms kan tot twee dae rus voordat hulle verder trek.

Mnr. Nel raai mense aan om hulle ongesteurd te laat. Hy sê dat hy dikwels by plekke aankom waar mense, veral skoliere, trekkende swerms wat gaan sit het met klippe, kosblikke en ander los goed gooi. Dit sal die swerm net op die aanval sit.

Lees ook: Beserkte bye steek honde dood

“As jy Kaap toe ry dan stop jy om ’n koeldrank te koop en ’n draai te loop. Bye doen dieselfde. Los hulle net uit en hulle sal rustig verder trek sonder dat iemand seerkry.”

As bye beserk raak:

• Bly uit hulle pad uit. Niks wat jy gaan doen gaan die situasie beredder nie. As die bye jou troeteldiere takel is daar niks wat jy kan doen om hulle te red nie. Sou jy probeer help sal jy self ’n slagoffer word.

“Bye gee nie om of jy mens of hond of vis is nie. As hulle kwaad is en hulle kan jou bykom gaan hulle jou steek. Bly weg van hulle af,” sê mnr. Nel.

Wat word van ‘probleem’ bye?

Mnr. Nel sê dat hy byeneste wat hy kan uithaal in korwe laat intrek wat hy dan verder as vyf kilometer van waar hulle gekry is moet weg vat.

“Bye werk in ’n 5km radius so jy moet hulle verder as dit hervestig om te keer dat hulle nie teruggaan nie. Vir water kan bye tot in ’n 8km radius vlieg,” sê mnr. Nel.

Inwoners wat met bye boer in hul erwe word gewaarsku om korwe liewer na buite die dorp te skuif. Korwe in erwe is gevaarlik omdat bye wat vir een of ander rede kwaad raak, lewensgevaarlik vir mens en dier kan wees.

Bye voorspel ’n goeie seisoen
Mnr. Nel sê dat hy baie mannetjies tussen die byswerms opmerk wat ’n teken is dat daar baie koninginne is wat bevrug moet word. Dit is weer ’n teken dat daar ’n goeie seisoen op ons wag, meen mnr. Nel.

Mnr. Nel vra ’n fooi as hy uitgeroep word. Hy kan gekontak word by 083 655 0179.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button