News

Dam so byna onder hengelaars uitgeruk

www.mobserver.co.za is oorval deur woedende hengelaars wat gekla het die dam is onder die eend uitgeruk, nadat’n laatmiddag lyntjie natmaak in die week, sonder ’n seisoenkaartjie, vir ’n paar dae taboe was by Middelburgdam.

“Ons het nog al die jare in die middae na werk gou gaan gooi vir swartbaars. Hoekom moet ons nou ’n seisoenkaartjie uitneem? R1 040 net om miskien een keer ’n maand vir ’n uur of twee vis te vang! Dis belaglik!” het mnr. Eugene Lombard boos uitgevaar. Hy is een van vele hengelaars wat hulle die afgelope paar weke vasgeloop het in sekuriteitswagte wat hulle by die hekke voorkeer en sê hulle mag nie na 16:00 sonder ’n seisoenkaartjie ingaan nie. Mnr. Lombard het die afgelope week spesifiek elke aand gaan kyk hoe die sekuriteitstelsel werk by die hek en élke aand het dit verskil. Een aand is hy net deurgelaat. Die volgende keer is hy voorgekeer en moes ’n vorm invul met al sy persoonlike besonderhede daarop. Hy was nog besig met die vorm, toe dieselfde sekuriteitswagte oopmaak vir ’n Quantum bussie, wat met blêrende musiek aangekom het. “Ek moes later vir die mense met die harde musiek vra om dit sagter te sit, want ons probeer vis vang. Hoekom moes ek ’n vorm invul en hulle kon net deurgaan?” Die ander aand was een van die sekuriteitswagte uiters aggressief teenoor hom. Mnr. Lombard, en talle ander hengelaars is dit eens dat hulle selfs sover sal gaan om ’n petisie op te stel. “As ek R1 040 moet betaal vir ’n seisoenkaartjie, sal ek ten minste 15 keer met vyf mense en ’n boot moet gaan om dit die moeite werd te maak, en dan moet dit boonop in die middel van die week wees!” Hy was op die punt om ’n petisie op te stel. Mnr. Braam Lee (van The Tackle Box) sê hy het talle klagtes van hengelaars ontvang oor dieselfde kwessie. “Ons wil nie baklei nie. As dit moet, sal ons met die munisipale bestuurder gaan praat oor die hengelaars se klagtes.” Rdl. Johann Dyason, wat self ’n gereelde hengelaar is, het aangedui “dat daar nie net gemaak kan kan word soos jy wil by die dam nie. Daar is nog nie eers ’n raadsbesluit nie oor nuwe reëls nie.” Hy het aangedui dat hy ’n brief sal skryf namens die hengelaars aan die toepaslike afdeling, waarin hy hul griewe sal verwoord en ’n mosie indien by die volgende raadsvergadering aan die einde van November. • Www.mobserver.co.za het pas verneem dat daar opdrag gegee is dat hengelaars nou weer gratis vanaf 16:00 by die hekke kan ingaan. Hulle moet net per Covid-19 regulasie die vorms by sekuriteit invul. • Dit is egter heel duidelik dat die kwessie voor die raad sal dien en dat seisoenkaartjies beslis binnekort ’n realiteit sal wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button