Diewe spits hul toe op fietse
Diewe het die afgelope paar weke hul visier gehad op onder andere fietse in Kanonkop (Middelburg).
Daar is in Tambotiestraat alleen vier fietse gesteel.
• ’n Vrou (wat anoniem wil bly) vertel dat ’n vriendin onlangs vir haar ’n fiets as geskenk gegee het.
Sy vermoed die diewe het haar dopgehou by haar woonstel in Tambotiestraat want hulle moes agter oor ’n muur klim en het rankplante uitgepluk om by haar fiets uit te kom.
• Vandaar is hulle na mnr. JJ Strydom se huis in dieselfde straat, waar hulle eers probeer het om sy Wendyhuis se slot te breek. Toe hulle nie uitkom nie, het hulle die deur se skaniere afgehaal om die deur oop te kry.
“Hulle moes met iets soos ’n koevoet gekom het, want hulle het presies geweet wat hulle doen.”
Die booswigte het weggekom met derduisende rande se kraggereedskap soos elektriese bore, kabels en slypmasjiene.

• Me. Suria Andrews sê hulle is nie seker wanneer hul kinders se drie bergfietse by hul huis in Tambotiestraat gesteel is nie, want hulle ry nie elke dag daarmee nie.
Daar is oral alarm-ogies op die erf, maar het die boewe presies geweet waar om agter oor die muur te klim, presies waar daar nie ogies was nie.
Saterdag toe hulle ’n draai wou gaan ry, toe is al drie fietse weg. Hulle het intussen meer alarm-ogies opgesit.
• Me. Annette McLean sê haar seuntjie, Logan (graad twee) se hart is baie seer omdat sy Mongoose BMX-fiets by hul huis in Lilian Ngoyistraat (bo in Kanonkop) gesteel is.
“Toe ons polisie toe ry om dit aan te meld, het hy gesê: ‘Mamma, ons moet net bid dat ons hom gaan terugkry.”
• ’n Gesin in Oribistraat (wat anoniem wil bly) is al raadop oor al die diefstalle by hul huis. Nie net is daar die afgelope paar maande al drie van hul kinders se fietse gesteel nie, maar is al die klere op die draad ook weggedra.
Hulle moes ook al sewe keer hekmotorbatterye vervang na diefstalle.
