Kinders huil van hongerte
Lede van Gondar Shellhole van die Moths organisasie, asook leerlinge van verskillende skole het Sondag Heldedag herdenk deur kranse op die graffies by die konsentrasiekamp begraafplaas in Kanonkop te plaas.

Die Middelburgkamp is voor Junie 1901 reeds geopen aangesien die Ermelo konsentrasiekamp hierheen geskuif is in Junie 1901. Die kamp het onhigiëniese watervoorsiening gehad en die inwoners moes al hulle water uit net ses putte ontvang. Daar was ook ’n kampskool. Die swak vleisrantsoene in die kampe, het die Britse owerhede in September 1901 daartoe gedwing om na blikkiesvleis oor te skakel. Die kamp het ook soos daar in baie kampe die geval was, ’n strafkamp gehad.
In April 1901 was die getal inwoners 1,292 persone en in Augustus van dieselfde jaar 6,523. Die hoogste getal was 7,751 in Julie 1901. In hierdie kamp sterf daar, volgens rekord, 1,621 persone waarvan 1,343 onder die ouderdom van 15 jaar was en 278 persone bo die ouderdom van 15 jaar. Vandag is daar drie afsonderlike begraafplase vir die Middelburg Konsentrasiekamp. Me. SC Scheepers skryf oor die lewe in die konsentrasiekamp: “In die begin het die lyke in die ronde tent, wat as ’n dodehuis gebruik is, op die grond gelê. Een nag is die lykie van ’n kindjie deur ’n vark byna heeltemal opgevreet. So het die familie die lykie daar gekry, toe hulle die volgende oggend gekom het om dit te kis. Die vleis wat ons gekry het om te eet, was dié van beeste wat lank siek was en het soos geel drilsel gelyk. Ek het self vitrioel uit die suiker gehaal en hakies uit die blikkies vleis.”
Mevrou Anna Sophia du Toit (Gebore Neethling) skryf sy moes gaan smeek vir ’n tent, toe hulle in Julie maand by die Middelburgkamp in die aand aangekom het. Toe word daar een tent vir 65 mense opgeslaan, wat so beknop was dat, nadat almal hul beddens opgemaak het, het hulle styf teen mekaar gelê. Oor die algemeen, het daar tussen 4 en 10 mense in ’n tent gewoon. Sy skryf: “As ons maar genoeg kos gekry het, dan sou dit op ’n manier gegaan het, maar dit was nie die geval nie. Om ’n kind te hoor huil: ‘Ma, ek is so honger; gee my tog ’n stukkie brood’, en niks te hê om vir hom te gee nie! Ag dan kon my hart van droefheid en smart breek.” Die Middelburgkamp is in Januarie 1903 gesluit.

https://vimeo.com/468831853
